Die invloed van sterk gesinne op die bou van sterk gemeenskappe

In ons stryd om oorlewing en ons strewe na ‘n bevredigende lewe fokus ons soms so sterk op die einddoel dat ons vergeet om om ons te kyk en die hier en nou raak te sien en te waardeer. Ek glo die lede van ‘n gemeenskap speel ‘n belangrike rol in die versterking en funksionering van hul omgewing. Omdat ‘n gemeenskap uit gesinne bestaan, moet ons by individue en hul gesinne begin as ons die gemeenskap wil ontwikkel. In hierdie skrywe verken ons die belangrikheid van verhoudings in gesinne en die impak wat dit op ons gemeenskappe het.

Elke florerende gemeenskap bestaan uit sterk saamgeweefde gesinne. Verhoudings in ‘n sterk gesin bied emosionele ondersteuning en geborgenheid, en dit bevorder ‘n liefdevolle omgee-omgewing. Mense is egter so besig dat hulle dikwels by mekaar verbyjaag sonder om mekaar regtig raak te sien. Ons leef saam in een huis, maar elkeen is met sy eie ding besig. Ons is so vasgevang tussen werk en sosiale media dat ons nie tyd het om regtig met mekaar te gesels en met aandag na mekaar te luister nie. Die soeke na ‘n “beter” lewe sluk die goeie tye wat ons as gesin kan geniet in.

Die mens smag na aandag, omgee en diep, betekenisvolle verhoudings met ander. Die bande wat ons met betekenisvolle verhoudings bou, dien as veiligheidsnet tydens uitdagende tye. Dit gee ons selfvertroue en verminder ons stres en angs. Wanneer hierdie verhoudings verbrokkel, voel ons geïsoleer, moedeloos en gedemotiveerd. Ons verloor soms dit wat vir ons die belangrikste is langs die lewenspad: ons band met ons kinders, lewensmaat, familie, vriende, en op die ou end met ons hele gemeenskap.

Die verhoudings in ‘n gesin beïnvloed hul waardes, kultuur en tradisies. Dit bepaal weer ‘n gemeenskap se unieke identiteit en erfenis. Gesinne kan dus ‘n positiewe of negatiewe uitwerking op die welstand van ‘n gemeenskap hê.

‘n Gesin wat tyd maak vir mekaar en sterk verhoudings bou, vorm sterk, emosioneel gesonde individue en op die ou end sterk gemeenskappe. Gesonde gemeenskappe bevorder geborgenheid en veerkragtigheid. Wanneer individue in hul gesin geborge voel, maak dit hulle trots op hul gemeenskap. Lede van die gemeenskap gee dan om vir mekaar en ondersteun mekaar. Gesonde verhoudings in gesinne en gemeenskap skep die basis vir toekomstige groei.

Om gesonde verhoudings te bou en te handhaaf, neem tyd. Begin klein en bou dit stelselmatig op. Hier volg ‘n paar wenke wat jou kan help.

Kwaliteittyd

Spandeer tyd saam sonder afleidings. Sit die fone weg, al is dit net vir 5 tot 10 minute. Eet soggens en saans saam as gesin, maar moenie voor die televisie sit met almal se aandag by ‘n fliek of televisiereeks nie. Studies toon dat gesinsetes kommunikasie, emosionele welstand en geborgenheid in die gesin bevorder.

Vestig goeie verbale en nieverbale kommunikasie

As kommunikasiekanale oop is en almal in die gesin hul onverdeelde aandag aan ‘n gesprek gee, dra dit by tot kwaliteittyd. Luister aktief na mekaar met die doel om te verstaan en moenie mekaar onderbreek of veroordeel nie. Luister met empatie en skep ‘n omgewing waar almal in die gesin gemaklik voel om hul idees, emosies en perspektiewe te deel. As ‘n gesin werklik na mekaar luister sonder om te oordeel, voel gesinslede hulle gesin respekteer hulle en gee regtig vir hulle om.

Gesels oor mekaar se dag, vra vrae en vertel jou storie in detail. Vra uit oor mekaar se belange. Onverdeelde aandag en tyd dra onberekenbare waarde by tot ‘n verhouding. Die gevoel dat iemand regtig na my luister en my raaksien, laat my belangrik voel en dit skep die geleentheid om bande te bou, vertroue te skep en verhoudings te versterk. Dit bevorder lojaliteit en betrokkenheid by mekaar.

Gesinsvergaderings

Hou gereeld gesinsvergaderings waar almal hul gevoelens, bekommernisse, uitdagings en prestasies kan deel. Dit skep geborgenheid, struktuur, roetine en geleentheid/vryheid om oop met mekaar te kommunikeer.

Speel of wees saam laf

Speel saam. Wees sommer net laf en begin unieke tradisies vir jou huishouding. Raak weer ‘n lawwe kind en vind die kreatiewe, lawwe mens in jou. Doen boeresport in die tuin. Speel bordspeletjies in die huis. Begin ‘n kussinggeveg of watergeweergeveg. Lag lekker saam. Bak en brou. Hardloop in die tuin rond. Bak modderkoekies. Stimuleer daardie sintuie! Wees kreatief en geniet elke oomblik.

Speel is ‘n fundamentele deel van ‘n kind se alledaagse lewe. Saam speel en laf wees kan die gesinslede se kreatiwiteit, verbeelding, vermoë om probleme op te los en emosionele welstand bevorder. Dit bevorder sielerus en vrede, want jy het nie tyd om oor alles te tob nie. Dit versterk die band tussen ouers en kinders en verdiep hulle verhoudings. Moenie die kosbare tyd wat jy saam met jou groeiende kinders het laat verlore gaan nie.

Kies aktiwiteite waarin almal in die gesin belangstel. Gedeelde belange bied die geleentheid om bande te versterk en positiewe herinneringe te skep. Kwaliteittyd kan nie met materiële dinge vervang word nie.

Hierdie is net ‘n paar van vele wenke. Daag jouself en jou gesin uit om oor die volgende paar maande klein veranderinge te maak wat kan lei tot ‘n groot verskil. Gesonde gesinne met sterk bande en gesonde verhoudings vorm die ruggraat van ‘n gemeenskap wat floreer. Die geborgenheid, respek, ondersteuning en veerkragtigheid wat uit sulke verhoudings voortvloei, het ‘n impak op die algehele welstand van ons samelewing. Deur in die versterking van gesinsbande te belê, bou ons sterker gemeenskappe. Kom ons bou saam aan ‘n vry, veilige en voorspoedige toekoms.

Bronne

Nordstrom, B., Lynch, H. & Prellwitz, M. (2023) Physio- and Occupatonal Therapists View of the Place of Play in Re/habilitation: A Swedish Perspective. International Journal of Disability, Development and Education, 70:2, 228-239, DOI: 10.1080/1034912x.2020.1846689

Bryant, W.K., Zvonkovic, A.M., & Reynolds, P. (2013). Parenting in Relation to Child Well-Being in African American and White Families. Marriage & Family Review, 49(5), 423-454.

Musick, K., & Meier, A. (2012). Assessing causality and persistence in associations between family dinners and adolescent well-being. Journal of Marriage and Family, 74(3), 476-493. Markman, H.J., Rhoades, G.K., Stanley, S.M., Ragan, E.P., & Whitton, S.W. (2010). The Prevalence and Potential Health Benefits of Marital Education.Family Relations, 59(5), 547-557.