Gemeenskapskakeling

GEMEENSKAPSKAKELING (saamgestel deur Mariëtte Roos, Assistent Streekorganiseerder Weskus)

Die konsep “gemeenskapsontwikkeling” is bekend, maar dit kan verskillende dinge vir verskillende mense beteken. Wanneer ons ‘n spesifieke gemeenskap wil ontwikkel, moet die lede van daardie gemeenskap en die plaaslike en nasionale regering met mekaar saamstem oor wat presies hulle in daardie gemeenskap wil bereik – dus oor wat die woord”gemeenskapsontwikkeling” vir hulle beteken.

In hierdie artikel wil ons fokus op ‘n paar aspekte wat noodsaaklik is vir ‘n gemeenskap om te kan ontwikkel. Een van die belangrikste aspekte is skakeling in die gemeenskap. Skakeling is afhanklik van hoe goed lede van die gemeenskap mekaar ken, of hulle weet wat die gemeenskap se menslike, kapitale, sosio-ekonomiese en ander hulpbronne is, en of hulle met mekaar kontak het / by mekaar ingeskakel is. Wanneer ons nuwe mense ontmoet, vra ons gewoonlik: “Waar kom jy vandaan?” of “Waar bly jy?” Veral wanneer ons in gemeenskappe inbeweeg, is dit logies om te begin met waar elkeen woon en wat hulle doen.

Maar die vraag behoort dieper te gaan as bloot “Waar bly jy?” Dit behoort te fokus op wat is daar in daardie gemeenskap en wat weet jy van die gemeenskap waarin jy woon? Omdat ons nie werklik ons gemeenskap so goed ken nie, weet ons nie wat daar aangaan of wat daar beskikbaar is nie. Daarom is ons eintlik “los” van die omgewing waar ons woon. Een van die gevolge daarvan is dat ons lewenskwaliteit nie so goed is as wat dit kan wees nie. Volgens navorsing is die oorsaak van persoonlike en politieke patologiese toestande die feit dat lede van gemeenskappe nie by mekaar inskakel nie. Die gevolglike eensaamheid/isolasie lei tot siektes en negatiewe gedagtes.

Eensaamheid ontstaan omdat ons nie voel dat ons deel is van ‘n groep nie en nie in ons gemeenskap saamstaan nie. Hierdie tendens word aangevuur deur outoritêre leiers wat daarop fokus om mense van mekaar te skei; ‘n goeie voorbeeld is die staat van inperking tydens die pandemie. Die skeiding lei tot isolasie en wantroue omdat ons mekaar nie ken nie. Die gebrek aan vertroue in mekaar laat wrywing in die gemeenskap ontstaan in plaas van samehorigheid.

Navorsing oor gemeenskapsontwikkeling wat op die ABCD-beginsel (“Asset-Based Community Development”) gebaseer is, fokus op ontwikkeling van binne ‘n gemeenskap. Die gemeenskap word dus bewus gemaak van watter hulpbronne hulle het wat hulle kan aanwend vir die positiewe ontwikkeling van hul eie gemeenskap, eerder as om na hulpbronne buite die gemeenskap te soek. Maatskaplike veranderinge vind plaas wanneer gemeenskapslede na mekaar begin uitreik en met mekaar skakel. Navorsing toon dat almal in die gemeenskap by hierdie skakeling ingesluit moet word, ook persone met gestremdhede en ouer persone. Dit is dan ook twee van die groepe waarop Solidariteit Helpende Hand in gemeenskappe fokus.

As organisasie reik ons uit na gemeenskappe met die boodskap dat persone met gestremdhede en ouer persone nie noodwendig uit die gemeenskap verwyder en in inrigtings soos tehuise vir bejaardes versorg moet word nie. (Natuurlik is dit ‘n maatskaplike aangeleentheid wat op individuele vlak ondersoek word en is die aanname nie dat almal in die gemeenskap geakkommodeer moet word nie. Elke saak moet op meriete beoordeel word.) ‘n Voorbeeld is Pat wat volgens navorsers in ‘n inrigting vir persone met gestremdhede geplaas is om versorg te word. Hy het homself egter na ‘n kort tydjie ontslaan en gesê dat hy nie “dis-abled” is nie maar “dis-connected” en dat hy sy eie gemeenskap nodiger het as versorging deur vreemdelinge in ‘n vreemde omgewing. In Pat se eie woorde: “We don’t need services, we need community.”

Elke mens het inherente menslike krag. Wanneer individue hul innerlike kragte met mekaar deel, vergroot dit die groep se kapasiteit. Die groepskapasiteit bou lede van die groep se selfvertroue en dit word weer na die gemeenskap oorgedra. Die effek kring al wyer uit en mettertyd begin die gemeenskap herstel en herontdek hulle hul kreatiwiteit.

Wanneer dit gebeur, begin ‘n mens jouself afvra wat alles agter die bure se voordeur weggesteek is – en agter jou eie voordeur. Heel moontlik het die bure wie se name jy nouliks ken vaardighede, kennis, passie en ondervinding waarvan jy niks weet nie. Daar is dalk informele klubs, groepe, verenigings en klein plaaslike organisasies wat ‘n bewese bydrae in die gemeenskap lewer waarby jy nie kan aansluit nie omdat jy nie daarvan weet nie. Dalk is daar in jou omgewing fisiese skatte soos geboue en pragtige natuurtonele of kultuurskatte wat jy nog nooit ontdek het nie omdat jy nog nooit daarheen uitgenooi is nie.

Dit is belangrik om te besef dat ‘n gemeenskap nie van buite gedwing kan word om met mekaar te skakel nie; daar moet ‘n behoefte aan skakeling in die gemeenskap wees om die bou van verhoudings moontlik te maak.

Die vraag is: WAT LAAT GEMEENSKAPPE / GROEPE FLOREER?

Dit word verseker nie deur plaaslike of nasionale politiek bewerkstellig nie. Die antwoord lê in verhoudings wat in gemeenskappe gebou word, in hande wat inmekaargevleg is en gemeenskapslede met mekaar verbind. Dit is die einddoel en dit werk op die beginsel van Ubuntu: “A person is a person through other people. I am because we are.”

In wese gaan dit oor samewerking. Dit is teenstrydig met regerings se boodskappe oor individualisme wat op individue se regte fokus asof elke individu ‘n god is. Die beginsel dat alle mense die reg het om te doen soos hulle wil, druis lynreg in teen die Woord van God wat ons leer dat daar slegs een God is en dat ons as individue net mense is.

Individue in gemeenskappe is interafhanklik van mekaar en nie onafhanklik nie. Interafhanklikheid kan bewerkstellig word deur ontdekking, skakeling en mobilisering. Die volgende belangrike tendense ontstaan hieruit:

  • Mense skakel met ander in hul gemeenskap, byvoorbeeld hul bure, omdat hulle besef dit is belangrike skakels om te hê. Dit is wyer skakeling as slegs met jou kollegas, familie en vriende.
  • Mense pak uitdagings aan deur op plaaslike sterkpunte te fokus eerder as op die foute in die gemeenskap en sterkpunte buite die gemeenskap.
  • Mense begin aan hul woonbuurte dink as die primêre plek om ‘n gelukkige, florerende lewe met volhoubare groei te bou, daarom probeer hulle om lede van die gemeenskap met mekaar te laat skakel en gee hulle om vir mekaar se gesondheid en welstand.

Jy bou dus saam met die mense in jou straat en woonbuurt aan ‘n alternatiewe toekoms waar almal werk het en saam ‘n goeie lewe ontwikkel. Julle wag nie vir politici of ontwikkelaars om dit van buite af te doen nie maar gebruik die bates in die gemeenskap. Die fokus is op die ontwikkeling van plaaslike vermoëns, kapasiteit en bates. Die beleid is om ‘n gemeenskap te ontwikkel deur lede van die gemeenskap te ontwikkel. Deur lae-inkomstegroepe te ontwikkel, kan hulle gemeenskappe opgebou en ontwikkel word.

Die beginsel dat ‘n gemeenskap van binne ontwikkel moet word, is natuurlik lynreg teen die tradisionele model waar rolspelers van buite vir die gemeenskap vertel wat hul behoeftes, probleme en tekortkominge is en hoe hulle dit moet aanpak.

Dit is belangrik dat ‘n woonbuurt stap vir stap verander moet word, daarom moet daar vasgestel word wat die EEN ding is wat vir inwoners so belangrik dat hulle bereid sal wees om op te tree om dit te verander – dus iets wat baie na aan jou voordeur en jou hart lê.

Solidariteit Helpende Hand se navorsing oor die impak van eensaamheid op mense se gesondheid ondersteun bevindinge in die boek The Connected Community dat eensaamheid ‘n mens net so ernstig benadeel as die rook van ongeveer 15 sigarette per dag.

Deur middel van volhoubare projekte en programme bou ons gemeenskappe op en verbeter daardie gemeenskappe se gesondheid, ekonomiese lewensvatbaarheid, versorging, omgewingsbewaring en kinderopvoeding. Dié positiewe gevolge word deur die plaaslike regerings ondersteun – dus weereens die beginsel van binne na buite.

Gemeenskapsontwikkeling is suksesvol as dit gedryf word deur ‘n strewe om die wêreld positief te verander met bydraes vanuit die gemeenskap sonder die verwagting van persoonlike gewin.

BRONNE

Russel, C., McKnight, J. & Palmer, P.J. 2022. The Connected Community: Discovering the Health, Wealth and Power of Neighborhoods. Berret Koehler Publisher, Inc. (Kindle edition).

Kriel, K. Maart 2022. Centurion-Wes Gemeenskapsforum: Saam is ons sterker.