Hoekom moet ek vir hulp vra?

Ek is ‘n Suid-Afrikaner in murg in been, ‘n Afrikaner, ‘n maatskaplike werker. Gedurende my
baie jare van werk in ‘n groot verskeidenheid gemeenskappe het dit my opgeval dat jy twee
groepe mense in ‘n gemeenskap kry: diegene wat baie maklik vir hulp vra (en eintlik daarop
aandring), en diegene wat eerder stilbly al kry hulle regtig op verskillende terreine swaar. Met
die toenemende finansiële, emosionele, politieke, geestelike en baie ander uitdagings raak
gemeenskappe meer kwesbaar. Mense wat voorheen nie swaargekry het nie, kry vir die eerste
keer daardie galbitter smaak van “nie genoeg hê”, daardie onsekerheid van “wat die toekoms
vir my en my gesin inhou”. Verhoudings ly skipbreuk, mense verloor hoop, hul geloof. Hul
gesondheid gaan agteruit weens swak eetgewoontes en stres. En so kan ek aangaan. Kortom,
ons gemeenskappe ly …


Navorsing
Uit navorsing wat Solidariteit Helpende Hand onlangs landswyd gedoen het, het die volgende
interessante inligting (feite) onder andere na vore gekom:
– Die meerderheid mense wat deel was van die steekproef het bestaan uit ‘n volledige
gesin: pa, ma en twee kinders.
– Een of beide ouers is werkloos of afgetree en gesinne se gemiddelde inkomste
wissel tussen R0 en R4 000 per maand.
– Hulle woon meestal in huise, woonstelle, of by vriende of familie.
– Die oorgrote meerderheid van die steekproef is gesinne wat nie voldoende voorsiening
vir hul aftrede gemaak het of kon maak nie. Dit lei soms tot kredietkaartskuld. Hulle
kan nie mediese fondse bekostig nie en kan nie vir mediese onkoste betaal nie.
– Hierdie groep ervaar soms huweliksprobleme en egskeidings. Hulle wil graag opleiding
kry om hul vaardighede uit te brei om ‘n werk te kry of meer te verdien. Sommige
mense in hierdie groep sukkel met substansafhanklikheid.
– Ongeveer 30% tot 50% sukkel met minstens een of twee siektetoestande asook
emosionele probleme soos angs of depressie.


Uit bogenoemde statistiek blyk dit duidelik dat mense swaarkry.


Moontlike faktore wat mense verhinder om hulp te vra
– Die meeste mense wil graag selfstandig wees en alles self doen. Dit is vir ons ‘n teken
van swakheid as ons hulp vra. Ons selftrots is vir ons belangrik. Ons ego is belangrik.
– Ons aangeleerde verdedigingsmeganismes (om onsself te beskerm teen gevoelens
van angs, verleentheid, minderwaardigheid, skuldgevoelens) veroorsaak blokkasies in
ons funksionering wat ons ontoeganklik maak vir hulp.
– Ons het min vertroue in ander. Omdat ons kwesbaar voel, is ons bang vir verwerping.
– Ons het geleer om nie te vra nie omdat mense nie meer vrywillig hulp aanbied nie.
– Ons dink ons het alle kennis in pag en het ander mense nie nodig nie.
– “Mense onderskat ander se gewilligheid om te help,” het Xuan Zhao van Stanford
Universiteit deur middel van haar navorsing bevind. Ons wil ander mense nie pla nie,
want ons kan hulle dalk verontrief, maar dikwels is die teenoorgestelde waar – mense
wil ‘n verskil maak, want dit maak hulle gelukkig. Wat sê die spreekwoord nou weer? Dis beter om te gee as om te ontvang.

En so kan die lys aangaan.

Daar is hoop en lig
Die Here het mense nie gemaak om alleen met die uitdagings van die lewe te worstel nie. “Dit
is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy
gelyke.” (Genesis 2:18)


“Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom
ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. As twee langs
mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word? Een alleen kan
oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie.”
(Prediker 4:9-12)


Almal beskou uitdagings vanuit hul eie perspektief en teen hul eie agtergrond en is nie in staat
om alleen na alle kante van die uitdaging te kyk nie. Ons het ander mense nodig om ons te
help om hul perspektiewe te verstaan en om ons aan moontlike oplossings te help dink. En
daar ís mense wat wil help.


Ek is van mening dat ons in hierdie moeilike tye moet besef dat ons nie meer alleen kán nie.
Ons het eerstens die Here nodig, dan vir mekaar en die gemeenskap wat hande kan vat om
mekaar sterker te maak. Daar is so baie mense wat wil gee … van hul fisiese besittings, hul
tyd, geld, talente, vaardighede, hulself. Al wat ons moet doen, is om te vra, te kommunikeer.
Mense voel goed as hulle ander kan help. As mense nie weet wat jy nodig het nie, kan hulle
jou nie help nie. Ons is verby die dae dat jy op jou eie eilandjie bly en alleen daar probeer
lewe. Ons het mekaar meer as ooit nodig. Gebruik die middele tot jou beskikking, en soek tot
jy hulp kry. Daar is altyd op die regte tyd en by die regte persoon daardie hulp beskikbaar as
jy God se leiding vra en Hom ten volle vertrou. Wat is lekkerder as om ander later te kan seën
met dit wat jy ontvang het!


Alna de Waal
Maatskaplike werker: Solidariteit Helpende Hand Suid-Kaap


Bronne:
– Plug, Meyer, Louw, Gouws, 1988. Psigologie-woordeboek. Lexicon Uitgewers (Edms.)
Beperk.
– Gauche, S. (mediese dokter in Mosselbaai), 28 Junie 2023, Lig tydskrif, “As jy sukkel
en wanneer jy val…”
– Solidariteit Helpende Hand-navorsing, 2021
– Die Bybel (AFR83)