‘n Stem vir kindwees

As student het ek die geleentheid gehad om groepwerk te doen met hoërskoolkinders wat as moeilikheidmakers bestempel is. Hierdie storie oor daardie groep kinders is so na aan my hart dat ek dit nooit sal vergeet nie.

Een seun in my groep is deur almal, ook die ander kinders, as die stoutste in die groep gebrandmerk. Hulle het vir my gesê: “Tannie, hy doen net wat hy wil.” Hy was ‘n regte woelwater, maar tydens ‘n persoonlike gesprek het ek sy ware verhaal leer ken – een van hartseer, armoede, geweld en gevaar. So ‘n verhaal sonder vreugde moet geen kind in sy daaglikse bestaan beleef nie. Dit was ‘n verhaal van alkoholmisbruik, gesinsgeweld en hartseer.

Ek het gehoor hoe die seun elke dag sy eie lewe op die spel plaas om sy ma teen die monsters van die lewe te probeer beskerm. “Tannie, dis my ma. Ek moet haar beskerm.” Weens sy huislike omstandighede kon hy later nie meer die nut van skool insien nie. Die kinderlyfie moes sy man staan om sy geliefdes te beskerm en kindwees was nie ‘n opsie nie.

Daardie dag het ek die maatskaplike kantoor gekontak om die gesinsgeweld en die risiko’s waaraan die seun blootgestel is, aan te meld. Die kantoor het aangedui hulle sal dit hanteer. Weke het verbygegaan en die seun het ‘n leier in die groep geraak. Hy het sy onderwysers gerespekteer en die ander gewys hoe om vir die onderwysers respek te toon en gehoorsaam te wees. Hy het na sessies die klaskamer help regpak en die klas se nar geword. Sy persoonlikheid het al sterker na vore gekom en hy het pragtig gegroei. Ek was so trots op hom. Stuk-stuk het hy weer kind geword.

Op my laaste dag saam met die groep kinders het ek elkeen gevra om vir my ‘n briefie te skryf waarin hulle aandui wat hulle geleer het en waarvoor hulle dankbaar is. Ek sien die ou grapjas wag tot almal klaar hulle briefies in die sakkie gesit het om seker te maak syne lê heel bo. So groet ons en die aand lees ek die briefies, syne eerste.

“Dankie dat tannie vir my geluister het. Die tannies was by ons huis en die nare man is nie meer daar nie.” Met trane in my oë besef ek deur net ‘n stem te wees vir hierdie kind kon hy sy kindwees terugkry. Dit was nie meer vir hom nodig om voortdurend in sy pasoppens te wees en om oorlewing te veg nie. Ek dra nou nog sy briefie saam met my om my daaraan te herinner dat die kleinste gebaar ‘n groot verskil in iemand se lewe kan maak. So kan elkeen van ons in ons gemeenskap ‘n kind of familielid se hele lewe verander deur net die regte organisasie of departement in kennis te stel. Indien jy gesinsgeweld vermoed of in jou omgewing sien, skakel die naaste kinderbeskermingsorganisasie of Departement van Maatskaplike Ontwikkeling. Wees ‘n stem vir die weerlose. Gee ons kinders hul kinderjare en vryheid terug.

Leave a Comment