Ontwikkeling van gemeenskapskrag
Dané Kotze, Streeks- Maatskaplike Werker: Solidariteit Helpende Hand Wes-Kaap-streek
Gemeenskapsontwikkeling is ‘n groot konsep wat in klein deeltjies verdeel kan word en ‘n reuse verskil in ons gemeenskappe kan maak. Ons het soms die geneigdheid om weg te skram van idees en konsepte wat vir ons te groot voorkom. Ons vra onsself af: Hoe moet ek so iets aanpak? Ek is nie gekwalifiseer om dit te doen nie! Oe nee, ek het nie die vaardighede vir die groot taak nie.
Al hierdie negatiewe sêgoed plaas leuens in ons koppe. Gemeenskapsontwikkeling en gemeenskapskrag loop hand aan hand. Die een kan nie sonder die ander voortbestaan nie. Daarom is gemeenskapsontwikkeling so belangrik vir die herstel, opheffing en voortbestaan van gemeenskapskrag.
Dit bring my by die mooiste beskrywing van gemeenskapsontwikkeling – as ‘n mosaïek-meesterstuk. Al die stukkies verskil van mekaar, maar tog speel elkeen ‘n noodsaaklike rol die vorming van die eindproduk. Net so moet ons onsself as deel van ons gemeenskappe sien. Ons is almal verskillend en elkeen bring ‘n uniekheid na die tafel toe. Ons moet net begin saamstaan en saamwerk om die uitkoms van ‘n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir ons nageslagte te bereik.
Nou hoe doen ons dit? Solidariteit Helpende Hand glo in volhoubare veranderinge deur opvoeding, opleiding en ontwikkeling. Dit beteken ons moet altyd teruggaan na die basiese dinge, insluitend sosiale samehorigheid of, soos ons dit ook kan noem, gemeenskapskrag. Gemeenskapskrag kan beskou word as ‘n kombinasie van vertroue, respek, gesamentlike waardes en nog vele meer. Om dit te bewerkstellig, moet ons verhoudings bou deur interaksie met ander in ons nabye omgewing. Gemeenskapskrag kan nie tot stand kom as elkeen op sy eie miershoop sit nie.
Gemeenskapskrag bevorder samewerking, empatie en veerkragtigheid. Dit stel gemeenskappe in staat om uitdagings aan te pak en met selfvertroue verandering mee te bring. Die volgende is ‘n paar maniere om dit te doen:
- Bring en braai in die buurt of straat eenmaal ‘n maand of kwartaal.
- Kyk buite fliek; elkeen bring sy eie stoel en springmielies saam.
- Begin ‘n stapgroep.
- Hou verwelkomingsdae vir nuwe intrekkers.
- Raak betrokke by jou kerk se aktiwiteite en nooi ander om dit ook by te woon.
- Loer by bure in vir koffie.
- Reik uit na ‘n plaaslike tehuis of gaan gesels ‘n bietjie met die tannie of oom in die huis oorkant jou.
- Begin ‘n WhatsApp-groep vir die straat of buurt waarop belangrike nuus versprei kan word.
Daar is nog vele idees wat verskeie gemeenskappe reeds geïmplementeer het. Interaksie in ‘n gemeenskap is so belangrik vir ‘n gesonde voortbestaan. As jy nie weet wie jou bure is of wat werklik in jou buurt of straat aangaan nie, hoe kan julle werklik saamstaan in nood?
Wanneer ons as individue die belangrikheid daarvan begin besef en elkeen iets kleins doen om in ons straat, buurt of groter gemeenskap betrokke te raak, kan ons so baie bereik. Dit maak die deure ook oop vir ander wat te onseker is om self met iets te begin en so begin die rimpeleffek van gemeenskapskrag. So dien ons ook as rolmodelle vir ons kinders en maak