‘n Mooi storie
Deur Alna de Waal
Kinders is een van die kwesbare groepe op wie Solidariteit Helpende Hand se programme en projekte gemik is. Ons doen alles in ons vermoë om kinders toe te rus, op te voed, te ontwikkel en op te lei.
‘n Enkelmamma het ons vroeër vanjaar gekontak met die versoek om haar matriekdogter met ‘n spesifieke skootrekenaar te help. Die mamma is werkloos en kry glad nie onderhoudsgeld van die biologiese pappa nie. Sy maak handwerkitems en bak vir ‘n inkomste. Haar dogter presteer bogemiddeld op skool, maar benodig haar eie skootrekenaar vir ‘n spesifieke vak. Met die assesseringsproses stel ons vas dat die gesin in moeilike omstandighede woon.
En daar begin die soektog na ‘n geskikte rekenaar. Ongelukkig kan ons nie ‘n tweedehandse rekenaar opspoor wat aan al die spesifikasies voldoen nie en na ‘n paar maande se gesoek gooi ons tydelik handdoek in.
Twee weke gelede vra die mamma weer of ons nie dalk al ‘n rekenaar kon kry nie. Ons waarde van uitnemendheid spoor ons aan om weer te probeer. En sowaar, dieselfde dag kom ons te hore van een wat aan al die vereistes voldoen! Dit is nou die resultaat van ‘n personeellid se gehoorsaamheid aan haar roeping.
Gister het ons die rekenaar in ‘n parkeerarea aan die dogter oorhandig. Sy was salig onbewus daarvan, want haar ma het besluit om dit vir haar as ‘n verrassing te hou. Die dogter is totaal oorweldig. Sy straal van vreugde en bedank ons oor en oor met trane in haar oë. Sy is so opgewonde en kan nie wag om haar “nuwe” rekenaar uit te toets. Sy sê sy strewe daarna om sewe onderskeidings in matriek te kry.
Sy het waarskynlik gisteraand as ‘n baie gelukkige jong meisie gaan slaap met die wete dat sy nie langer minderwaardig hoef te voel omdat sy nie haar eie rekenaar het nie. Sy het nie net ‘n rekenaar ontvang nie maar ook hoop en moed om haar beste vorentoe te lewer.
Jy kan ook help om vir kinders bruggies te bou wat vir hulle ‘n beter toekoms verseker. Ondersteun gerus ons Bemagtig ‘n Kind-projekte as jy ook ‘n verskil in ‘n kind se lewe wil maak.