Vroetelmoutjies vir persone met demensie en Alzheimer se siekte

“Demensie” Sverwys na breinsteurnisse wat die geheue, denke, gedrag en emosie beïnvloed. Alzheimer se siekte is die algemeenste oorsaak van demensie en maak 50%-75% van alle demensiegevalle uit. Die siekte vernietig die breinselle en senuwees wat boodskappe in die brein oordra en versteur veral die geheue.
Tydens die verloop van Alzheimer se siekte sterf senuweeselle in spesifieke dele van die brein. Die brein krimp en verloor sy vermoë om nuwe inligting te stoor en onttrek. Dit beïnvloed lyers se vermoë om te onthou, te praat, te dink en besluite te neem.
Alzheimer-simptome kan die volgende insluit:
- Geheueverlies
- Uitdagings om die regte woorde te vind of te verstaan wat mense sê
- Uitdagings om roetinetake uit te voer
- Veranderinge in persoonlikheid en wisseling van buie
Alzheimer se siekte is ‘n geleidelik progressiewe toestand (dit raak mettertyd al erger) waarvoor daar tans geen genesing is nie, maar ondersteuning is beskikbaar.
Ouer persone en diegene met gestremdhede is van Helpende Hand se fokusareas. Ons vrywilligers in die Wes-Kaap-streek doen moeite om demensielyers te ondersteun deur vir hulle vroetelmoutjies te brei. Elke moutjie is uniek. Verskeie items word daaraan vasgewerk en die demensielyer trek dit oor die voorarm sodat hulle met die items kan vroetel. Dit stimuleer die handspiere en brein en help ook voorkom dat alzheimerpasiënte hulself stukkend krap.
Ons gee om. Saam is ons sterker.
Hou ons sosiale media dop vir meer inligting oor soortgelyke aksies by:
Facebook: @weskaaphand
Instagram: @shh_weskaap
Kontak gerus die Suid-Afrikaanse Assosiasie vir Dimensie en Alzheimers by https://www.adasa.org.za/ vir verdere inligting rakende die diagnose en versorging van demensielyers. #HelpendeHand #Alzheimers #Demensie #Vroetelmoutjies