Trauma en gemeenskappe

  1. Inleiding

Ons word baie meer deur trauma in ons gemeenskappe beïnvloed as wat ons besef. Elkeen van ons kry op een of ander wyse met iemand te doen wat bewustelik of onbewustelik onverwerkte trauma het. Of jy is self al blootgestel aan een of ander traumatiese gebeurtenis. Dit manifesteer op verskillende wyses soos padwoede, ‘n negatiewe leefwyse en problematiese verhoudings. ‘n Geïntegreerde gemeenskap kan help om trauma positief te hanteer.

  • Wat is trauma?

Trauma is die psigiese wonde van traumatiese gebeure. Dit is die innerlike pyn en seer wat ‘n mens na traumatiese gebeure ervaar. Traumatiese gebeure is volgens Hennie Human, slagofferondersteuningsbeampte by AfriForum, gebeure wat lewensbedreigend is en verlies insluit.

Gewoonlik is ons liggaam, emosies en denke aan mekaar verbind, maar trauma skei dit van mekaar. Trauma vries jou denke en skei die linkerbrein (die kognitiewe deel van die brein) en die regterbrein (die emosionele deel van die brein) van mekaar. ‘n Mens beskerm jouself teen trauma deur te veg, vlug of vries. Die gevolg hiervan is dat ons geneig is om te vergeet, irrasioneel op te tree en bloot nie ‘n kwaliteitlewe kan lei nie.

  • Wat kan trauma veroorsaak?
  • Boeliegedrag by die werk, tuis, by ‘n opleidingsinstelling
  • Egskeidings en die verbrokkeling van enige ander verhouding
  • Die afsterwe van ‘n geliefde
  • As jy ‘n slagoffer van geweld is
  • ‘n Betekenisvolle ongeluk, soos ‘n motorongeluk
  • Voortdurende blootstelling aan trauma in sekere beroepe soos maatskaplike werk, nooddienste, sekuriteit en die polisiemag
  • Enige verlies, soos ‘n werk, die wegtrek van kinders van hul ouers, gesondheid en finansiële inkomste
  • Voortdurende stres of druk
  • Wat is die uitwerking van onverwerkte trauma op individue, gesinne en gemeenskappe?

Hier volg ‘n paar simptome.

  • Terugflitse van ‘n traumatiese gebeurtenis/nagmerries
  • Problematiese/Rebelse optrede
  • Uitermatige bangheid, angs, aggressie
  • Die vermyding van plekke en aktiwiteite wat aan die traumatiese gebeurtenis herinner
  • ‘n Mens kan nie aanbeweeg met jou lewe nie; jy voer ‘n oorlewingsbestaan
  • Emosionele afstomping
  • Die misbruik van alkohol en/of dwelmmiddels
  • Verhoudings lei skade weens jou oorreaksie/aggressie
  • Depressie
  • Die mishandeling/verwaarlosing van kwesbare persone

“Minstens een uit elke sewe Suid-Afrikaners sal ‘n traumatiese gebeurtenis in hul leeftyd ervaar. Indien dit onbehandeld gelaat word, kan dit lei tot ernstiger langtermyn-geestesongesteldheid,” sê dr. Gagu Matsebula, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Vereniging van psigiaters. As trauma met onbehulpsame hanteringsmeganismes bestuur word en nie verwerk en hanteer word nie, kan dit ernstige geestesgesondheidstoestande veroorsaak.

Die gemeenskap is eerder daartoe geneig om mense in gevalle van siekte of dood by te staan as na traumatiese gebeure. Wanneer jou huwelik of liefdesverhouding verbrokkel of jy jou werk verloor of deur skande moet worstel, staan jy dikwels alleen in jou krisis. Wanneer ‘n traumatiese gebeurtenis in ‘n gemeenskap plaasvind, soos ‘n tragiese busongeluk waarin talle kinders dood is of ‘n plaasaanval, moet dit terapeuties hanteer en verwerk word, anders bestaan die moontlikheid dat daardie impak van geslag tot geslag oorgedra kan word.

  • Hoe kan trauma in ons gemeenskappe doeltreffend hanteer word?

Ons moet aanvaar dat trauma deel van ons lewe is, en ons moet daarop ingestel wees om ons medemens fyn waar te neem sodat ons trauma kan herken en nie te maklik iemand anders se “sosiaal onaanvaarbare gedrag” veroordeel nie. Indien jy trauma van een of ander wyse ervaar het of steeds ervaar, moenie huiwer om ‘n professionele persoon, soos ‘n maatskaplike werker, berader, predikant of sielkundige te kontak nie. Indien jy nie dadelik aanklank by daardie persoon vind nie, reik na iemand anders uit totdat jy gemaklik voel. Moedig jou vriend/familielid wat trauma-simptome openbaar aan om hulp te kry. Verseker dat jy ‘n ondersteuningstelsel soos ‘n gebedsgroep, selgroep, of ‘n soortgelyke groep mense het wat jou kan bystaan in nood.

AfriForum het gevind dat vroue van gesinne wat aan geweldsmisdade blootgestel is, emosioneel sterk wou wees vir hul gesinne. Wanneer hierdie vroue hul trauma saam met ‘n berader kan ontlont en saam huil, ervaar hulle totale verligting. Saam kan hulle sterker wees.

Dit is noodsaaklik dat netwerke wat dienste aan traumaslagoffers in gemeenskappe lewer, moet hande vat en saamwerk. Hulle kan slagoffers na mekaar verwys en op verskillende vlakke ‘n geïntegreerde diens lewer. Leer mekaar ken en doen moeite om ter wille van die kliënte verhoudings te bou.

Maatskaplike ontwikkeling van gemeenskappe en netwerke wat hande vat, kan ‘n integrale rol speel om individue en gemeenskappe wat slagoffers van trauma is te akkommodeer deur middel van ondersteunende projekte en programme.

  • Gevolgtrekking

Mense in ‘n gemeenskap het mekaar nodig. Ons is aangewese op mekaar. Hoe gouer ons dit besef, hoe vinniger kan gemeenskappe sterker raak en selfs genesing vind. Dit is al menigmale in die geskiedenis bewys dat gemeenskappe wat saamstaan, sterker is. Ons Voortrekker-voorvaders is ‘n goeie bewys daarvan. Indien elkeen van ons emosioneel meer ingestel is op ons medemens en aan hulle doen wat ons aan onsself gedoen wil hê (Lukas 6: 31), kan trauma met meer liefde en empatie hanteer word. Die uitkoms daarvan kan gesonder, gelukkiger gemeenskappe wees. Is dit nie wat ons vir ons kinders en hul kinders wil hê nie?

Alna de Waal

Streeks- maatskaplike werker: Solidariteit Helpende Hand Wes-Kaap

Bronnelys

  1. Jhua-Nine Wyrley-Birch. “Trauma kelder Suid-Afrikaners se geestesgesondheid .” www.maroelamedia.co.za. 10 Oktober 2022
  2. AfriForum. “Hoe raak trauma gemeenskappe?” www.afriforum.co.za. 06/10/2020
  3. Hennie Human. “Die impak van trauma.” www.afriforum.co.za. 06/05/2020
  4. Theresa Burke. “How trauma impacts the brain.” www.rachelsvineyard.org. FAMSA Trauma Training. 24/07/2019
  5. Die Bybel