Geestelike armoede in gemeenskappe

Solidariteit Helpende Hand se visie is om die Afrikaner-gemeenskap se volhoubare welstand te verseker deur finansiële, sosio-emosionele, geestelike, fisiese en kulturele opheffing te bewerkstellig. Ongelukkig is armoede in al hierdie lewensareas ‘n werklikheid en funksioneer dit dikwels interaktief. As jy byvoorbeeld finansieel swaarkry, kan jy aan ‘n minderwaardigheidskompleks ly en net oorleef in plaas daarvan om voluit te leef. Ander areas van jou lewe kan gevolglik afgeskeep word, soos om geestelike bemoediging in ‘n kerk te kry en gesond te eet. Jy kan ook uitdagings soos depressie ervaar. As maatskaplike werker van Helpende Hand ervaar ek dikwels hoe mense hulself isoleer weens hul uitdagende omstandighede, wanhoop beleef en gevolglik nie hul volle potensiaal kan bereik nie. Isolasie lei ongelukkig dikwels ook tot maatskaplike probleme soos onder andere geweld.

Dikwels word die Here vir slegte omstandighede in mense se lewe geblameer. Die waarheid is egter dat die Here nie ons omstandighede veroorsaak nie. Dit is altyd die gevolg van ons eie of dié van ander se toedoen (sonde). Ons Here is goed. Hy is altyd in ons lewens teenwoordig en altyd dieselfde. Wanneer iets goeds gebeur, bly Hy goed. Wanneer iets slegs gebeur, bly Hy ook goed.

Mense het God nodig, en ons as gelowiges moet sy liefde in gemeenskappe uitleef sodat geestelike betrokkenheid geaktiveer kan word. Hebreërs 10:24 verduidelik hierdie konsep so mooi: “Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien naderkom.”

Die boodskap van die Woord word versprei waar verhoudings gebou word. Die plekke waar geloof oorgedra word, is in die gesin, die kerk, skole en ontspanningsplekke. Geloof word gewoonlik eerste in die huisgesin of familie oorgedra, daarna by die skool of kerk en laastens waar mense saam ontspan en kuier. Die bekende Kanadese pastoor, Henry Blackaby, is van mening dat ‘n mens moet aansluit waar God alreeds aan die werk is. En dit is dikwels in die kerk of in ‘n geloofsgemeenskap waar verhoudings gevestig word. Daarom kan ‘n taklid of personeellid se liefdevolle betrokkenheid by ‘n gesin of individu beskou word as ‘n plek waar die Here alreeds aan die werk is en waar daardie geestelike saadjie geplant kan word.

In die lig van bogenoemde kom ek opnuut tot die besef watter groot verantwoordelikheid daar op ons as lede van die gemeenskap en as personeel van Helpende Hand rus. Ons moet daarop fokus om mense weer terug te lei na Jesus as ons Verlosser en enigste Redder deur sy liefde uit te leef teenoor die mense wat ons pad kruis, deur die ekstra myl te loop sodat omgee en empatie oorgedra kan word. Ons moet hulle bedien deur die Woord te saai waar ons gaan, al is dit net met ‘n tweedehandse Bybel van die Ons Winkel of ‘n bemoedigende woord dat elkeen kosbaar is in sy oë. Dit is belangrik dat ons sal besef “‘n Mens leef nie net van brood nie.” (Lukas 4:4) Wanneer ons Hom eerste in ons lewe stel, sal alles in plek val.

Die gevolgtrekking waartoe ek kom, is soos volg:

  • Saai die Woord veral tydens projekte en individuele hulpversoeke waar verhoudings gebou en gevestig word.
  • Dra elkeen wat Hom nie ken nie of afvallig geraak het voortdurend in gebed aan die Here op sodat hulle Hom sal leer ken of Hom opnuut sal aanneem as hul enigste Verlosser.
  • Maak mense bewus van die belangrikheid daarvan om Hom te ken en hand aan hand saam met Hom te leef, want sodoende kan daar weer hoop geskep word en net dalk kan Helpende Hand se visie volbring word.

Hoe bevrydend sal dit nie vir ons elkeen wees om om ons te sien soos Jesus ons sien nie?!

Alna de Waal

Streeks- maatskaplike werker: Solidariteit Helpende Hand

Bronnelys

  1. “Toekomsvenster: Die kerk is ook in die derde plek”, Maroela Media, 14 Junie 2016
  2. “Gedagte vir die dag: Geestelike armoede”, Maroela Media, 14 Desember 2019
  3. Die Bybel (AFR83)