Helpende Hand Paarl-tak bied beroepsdag aan
3 Desember 2024
MEDIAVERKLARING
Die Helpende Hand Paarl-tak het op 26 November ‘n beroepsdag vir leerders aangebied in samewerking met Delecta Fruit. Delecta het die inisiatief geneem en Helpende Hand genader om leerders te identifiseer wat in die bedryf belangstel.
Graad 11-leerders van die Hoërskool Hugenote is in samewerking met die onderwysers geïdentifiseer en 45 leerders is vanaf die skool in Wellington na Delecta in die Paarl vervoer. Aanbiedings is gedoen oor verskeie afdelings van Delecta, insluitend finansiële bestuur, kommersiële bestuur, verhoudingsbestuur, logistieke bestuur en aankope.
Die interaktiewe aanbiedings het aan leerders ook die geleentheid gegee om vrae te vra en meer inligting te verkry oor afdelings waarin hulle belangstel.
Die oggend is afgesluit met ‘n demonstrasie van die klassifisering van vrugte en ‘n geleentheid om van die vrugte te proe. Elke leerder het ‘n wegneemete ontvang en is daarna terug na die skool vervoer.