Welstand-wandelinge – goed vir liggaam en gees

Solidariteit Helpende Hand se jaartema vir 2025 is Welstand. Gedagtig hieraan wil ons graag asemskep-oomblikke in die natuur bewerkstellig. Die reeks Welstand-wandelinge is bedoel om gesellige uitstappies na verskeie plekke in die Wes-Kaap te wees. Die groepie stappers sal elke keer saam begin stap, maar almal sal teen hul eie pas wandel. Dit is jou voorreg om te stop om ʹn voëltjie of ʹn vlinder dop te hou, tyd by ʹn spesiale plek in die tuin te verwyl of teen ʹn vinniger pas te stap. Doen wat vir jou welstand goed is.
Geen fooi word vir hierdie wandelinge gehef nie, maar ons sal dit waardeer as elke deelnemer ʹn skenking van toiletware kan saambring en by die registrasietafel ingee. Dié items maak dit vir Helpende Hand moontlik om behoeftiges in die gemeenskap te help.
Die eerste Welstand-wandeling het in Maart in die Harold Porter Botaniese Tuin in Bettiesbaai plaasgevind tydens die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI) se Nasionale Tuinweek. Elke deelnemer het ʹn bottel water en ʹn appel, beide geborg deur ondersteuners, ontvang. Helpende Hand se maatskaplike werker, Dané Kotze, het ook ʹn gedrukte kaartjie met pitkos gegee waaroor elkeen in stilte kon dink terwyl hulle daar in die natuur gewandel het.
Die volgende Welstand-wandelinge is reeds geskeduleer:
- 26 April 2025 by die Strand-seefront
- 27 September by Majik Forest, Durbanville
Hou ons Facebook-blad (@weskaaphand) dop vir nuwe datums en wandelinge.
Kom voed jou siel en maak terselfdertyd ʹn verskil in jou gemeenskap!
Navrae: [email protected]