Helpende Hand Swartland-tak stig studiefonds

Die Solidariteit Helpende Hand Swartland-tak in Malmesbury het die afgelope maand die Swartland Studiefonds tot stand gebring. Dit volg op die tak se gefokusde fondsinsameling met hul eerste gholfdag by die Malmesbury Gholfklub op 12 April 2025. Die hoofborg wat die gholfdag moontlik gemaak het, was iPlan. Die dag is bygewoon en ondersteun deur iPlan se kranige gholfspelers en ander plaaslike spelers vir wie Helpende Hand na aan die hart lê.

“Die stigting van hierdie studiefonds stel ons tak in staat om aan jongmense van hierdie gemeenskap en die Swartlandomgewing met rentevrye studielenings die geleentheid tot verdere studie te bied,” sê Lucille Bezuidenhout, voorsitter van die Helpende Hand Swartland-tak. “Ons is dankbaar vir die gemeenskap se ruim ondersteuning. Sonder hulle hulp sou ons nie hierdie belangrike mylpaal kon bereik nie,” sê sy.

Die aansoekproses vir die Swartland Studiefonds is aanlyn beskikbaar by www.helpendehand.co.za. Aansoekers moet by ‘n geakkrediteerde akademiese instelling geregistreer wees. Elke aansoek word individueel geëvalueer vir die moontlike toestaan van ‘n rentevrye studielening. Aansoeke sluit op 30 September 2025. Kontak gerus vir Mariëtte Roos, die streeksorganiseerder vir die Weskus-area, by [email protected] vir inligting oor Helpende Hand se projekte