WES-KAAP

WES-KAAP

Solidariteit Helpende Hand Sekretaressedag

3 September 2025

Op Woensdag 3 September 2025 het Solidariteit Helpende Hand Wes-Kaap se streekspersoneel vir al hulle sekretaresses, administratiewe beamptes, kantoorbestuurders en ander ondersteunende personeel dankie gesê vir hul bydrae tot hul werkgewers se effektiewe funksionering.

Die geleentheid is aangebied by Picardie Gasteplaas in die Paarl. Lana Louw, eienaar van die gasteplaas, het die gaste met heerlike koffie, tee en varsgebak verwelkom.

Die sprekers was Debbie Laubscher van iSimplifi Computer Training en Nettie Lubbe van Zunette Etiquette Solutions. Debbie het ‘n interaktiewe aanbieding gedoen oor die gebruik van kunsmatige intelligensie in die gaste se werksomgewing. Sy het waardevolle inligting met hulle gedeel. Nettie het gesels oor die belangrikheid van etiket. Sy het klem gelê op die impak van etiket op die werksomgewing, die professionele uitvoering van pligte en die bou van interpersoonlike verhoudings in die werksplek. Dit was leersaam en het baie byval gevind by die gaste. 

Helpende Hand speel ‘n belangrike rol in gemeenskapsontwikkeling. Mariëtte Roos, Helpende Hand Wes-Kaap-streek se streeksorganiseerder, het inligting verskaf oor die organisasie se werksaamhede en fokusgroepe. Die Helpende Hand Paarl-tak se bestuur het ook die oggend bygewoon en gaste aangemoedig om betrokke te raak by dié tak se werksaamhede. Ons Winkel Paarl, wat deel vorm van Solidariteit Helpende Hand, het ‘n stalletjie by die geleentheid gehad.

Caitlyn Edwards, Akademia se bemarkingsbeampte, het gaste daaraan herinner dat Akademia die deure van hul splinternuwe kampus in die Paarl in Januarie 2026 open. Sy het almal uitgenooi om die kampus se opedae in Oktober by te woon. Die dag is afgesluit met gelukkige prystrekkings en ‘n lekker informele kuier.

Word deel van die Solidariteit Helpende Hand familie