Kuier & Kerrie vir ‘n toekoms vol hoop
Op Vrydag, 19 September 2025, het die Helpende Hand George-tak se saal gegons van lag, geselskap en heerlike geure by ons Kuier & Kerrie-funksie – alles ten bate van die Studiefonds.
Met 150 kaartjies verkoop én hope toiletware ingesamel, was dit ‘n aand waar saamkuier en gee hand aan hand gestap het.
Ons seremoniemeester, Jaco Koekemoer, het almal laat glimlag en met flair die veiling aangevuur – terwyl hy die waarde van vrywilligers en gemeenskapsamewerking onderstreep het.
Een van die roerendste oomblikke was toe Juan Barnard, ouer van studente wat by die fonds baat gevind het, sy hart deel: “Dit neem ‘n gemeenskap om ‘n kind op te voed.” Dit was ‘n herinnering waarom ons doen wat ons doen.
Die ete self was ‘n fees! ‘n Bont broodtafel, geurige kerrie wat deur ‘n plaaslike sjef met liefde voorberei is, en ‘n soet afsluiting van koffie en koeksisters.
Baie geluk aan al ons gelukkige wenners van die aand se trekkings – dít was moontlik danksy die groothartigheid van George se gemeenskap. ‘n Groot dankie aan elke gas, borg, donateur en taklid (en hulle gades) wat hierdie aand tot só ‘n geseënde sukses gemaak het. Julle het nie net gehelp om ‘n fonds te bou nie – julle bou saam aan jongmense se toekoms.
