WES-KAAP

WES-KAAP

Porterville-tak stig hul Helpende Hand-studiefonds

Die Solidariteit Helpende Hand Porterville-tak het op 17 September 2025 hul Helpende Hand-studiefonds gestig wat aangewend gaan word vir finansiële ondersteuning aan voornemende studente. Hierdie gemeenskapstudiefonds staan bekend as die Porterville Studiefonds.

Die amptelike stigting van die gemeenskapstudiefonds volg op ongeveer ‘n jaar se harde werk deur die Porterville-tak. Hulle het deur die loop van die jaar verskeie fondsinsamelingsprojekte geloods en die grootste gedeelte van die fondse met die jaarlikse ghongskietdag ingesamel.

Op Woensdag 17 September is die stigtingsdokumente vir die Porterville Studiefonds tydens die maandelikse takvergadering onderteken. “Hierdie is ‘n groot stap vir die Helpende Hand-tak,” sê Jeannie Venter, die takvoorsitter. “Ons het hard gewerk om fondse in te samel om die stigting van hierdie studiefonds moontlik te maak. Dit bevestig ook dat die tak wil belê in ons jongmense en aan hulle die geleentheid wil bied om verder te kan studeer.”

Jongmense uit die gemeenskap kan nou aansoek doen vir rentevrye studielenings wat gedeeltelik deur Helpende Hand ondersteun word.

Venter het bygevoeg: “Ons hoop die vertroue wat ons hierdeur in die gemeenskap skep, sal lei tot verdere ondersteuning aan hierdie studiefonds vanuit die gemeenskap. Ons kinders het die gemeenskap nodig om hulle toekoms te verseker.” Vir enige navrae oor Helpende Hand of hoe om hierdie studiefonds verder te ondersteun, kontak vir Jeannie Venter by [email protected] of vir Mariëtte Roos, die Helpende Hand-streeksorganiseerder, by [email protected]

Word deel van die Solidariteit Helpende Hand familie