Maatskaplike opleiding: “Hoe hou ek my koppie vol?” – Welstand in aksie
As deel van Helpende Hand se jaartema “Welstand” is ‘n praktiese en inspirerende opleidingsessie vir taklede in die Weskus-streek aangebied. Die sessie het gefokus op emosionele selfversorging en hoe vrywilligers hul “koppie vol kan hou” te midde van die eise van gesin, werk en gemeenskapsdiens.
Die opleiding het beklemtoon dat selfsorg noodsaaklik is – nie net vir wat jy doen nie, maar vir wie jy is. Deelnemers is toegerus met konkrete strategieë soos die volgende:
- Die neem van gereelde pouses en tyd vir rus en ontspanning
- Die gebruik van die woord “nee” sonder ‘n skuldgevoel
- Die waarde van vriendskappe en ondersteuning
- Die belang van doelgerigte refleksie en dankbaarheid
‘n Welstandswiel is gebruik as hulpmiddel om die balans tussen verskillende aspekte van ‘n mens se lewe te evalueer – emosioneel, fisies, sosiaal, geestelik, ontspanning en werk. Hierdie visuele hulpmiddel het taklede gehelp om hul eie welstand in elk van die areas prakties te evalueer en saam te dink hoe hulle dit kan verbeter.
Die sessie is afgesluit met die slagspreuk:
‘n Mens is soos ‘n teesakkie – jy weet eers hoe sterk jy is wanneer jy in warm water beland.”
Hierdie opleiding het nie net waardevolle insigte gebied nie, maar ook ruimte geskep vir refleksie, binding en om te herlaai – alles in lyn met Helpende Hand se strewe na volhoubare diens en gesonde vrywilligers.