WES-KAAP

WES-KAAP

Riversdal Droom myl

Op 6 September 2025 het Helpende Hand Riversdal-tak die hartroerende Droommyl-stap saam met Droom Tehuise aangebied. Hierdie unieke geleentheid het by Huis Jan Lange begin en was spesifiek daarop gemik om bejaardes, persone met gestremdhede en die breër gemeenskap bymekaar te bring. Dit was nie ‘n wedloop nie; deelnemers kon rustig stap en hul tyd sinvol saam spandeer.

As assistentstreeksorganiseerder was dit vir my ‘n groot voorreg om die dag amptelik te open. Ek het die deelnemers verwelkom en kortliks vertel waarmee die Riversdal-tak besig is – vir Riversdal, in Riversdal. Daarna het ek ‘n warm pannekoek en ‘n koppie koffie van Droom geniet – net die regte energie vir die myl saam met my rolstoelvriende.

Toe ons begin stap, het ek heel agter saamgestap langs ‘n jong Voortrekker-seun wat ‘n bejaarde tannie se rolstoel met groot geduld en liefde gestoot het. Haar voete wou nie saamwerk nie, maar een van ons fisioterapeute het gou ‘n plan gemaak om dit gemaklik vas te maak. Al kon sy nie woorde gebruik nie, het sy kort-kort gelag – ‘n lag wat die hele atmosfeer ligter gemaak het. Ek sal daardie vreugde nooit vergeet nie.

Verder aan op die pad het ek vir oom Jan raakgeloop. Hy is al ‘n jaar lank in ‘n sorgeenheid vir mense met Alzheimer’s en herken niemand meer nie, selfs nie sy geliefde vrou nie. Dit was die eerste keer in ‘n lang tyd wat hy weer uit sy kamer gekom het … én saamgestap het. ‘n Jong Voortrekker het die oom handgegee, terwyl sy vrou met sagte oë langs hom gestap het. En toe gebeur daar iets wat almal se harte aangeraak het: Oom Jan het begin skape aanjaag. Hard, vol oorgawe en met ‘n glimlag. In sy gedagtes was hy weer op sy plaas tussen sy vee.

Toe ons by die NG Kerk verbystap en die toring in die verte sien, het hy dit dadelik herken. “Ons moet kerk toe,” het hy aangedring. Ons moes hom mooi herinner dat die wit pyltjies vir vandag die roete aandui. Tog was dit duidelik: die kerk bly vir hom kosbaar, ‘n plek wat hy onthou. Later het hy my selfs aangemoedig: “Nooientjie, stap vinniger!” Ek het gehoorsaam probeer byhou en gebloos toe ek besef oom Jan se gedagtes was dalk meer by die plaas en sy roetine as by die staproete. Maar hoe ook al. Oom Jan het die Droommyl voltooi en sy eie prys ontvang.

Die oomblik was kosbaar. Sy vrou kom elke dag getrou kuier al herken hy haar glad nie. Vir my is sy ‘n ware engel op aarde.

Die Droommyl het my gewys dit was nie net ‘n projek om ons verhouding met ander organisasies te verdiep nie, maar ‘n dag van werklike verdieping van harte. Huis Wallace Anderson se inwoners, Albertinia se ouer persone en versorgers, die Voortrekkers, Droom-vrywilligers – almal het saamgekom. En saam het ons ontdek: Soms lê die mooiste vreugde in eenvoudige stappies, hand aan hand, ‘n lag tussen trane, en herinneringe wat ons vir altyd bybly.

Die Droommyl was nie net ‘n stap nie – dit was ‘n reis van omgee, herinneringe en hoop.

Word deel van die Solidariteit Helpende Hand familie