‘n Boodskap van hart tot hart
Welstand is ‘n toestand van voorspoed, geluk en gesondheid (Supertaal: Woordeboek, Junie 2021). Welstand bestaan uit vele aspekte, insluitend geestelik, sosiaal, emosioneel, fisies, kultureel en psigologies. Om veral die geestelike komponent (maar nie net dit nie) van kwesbare individue en gesinne te versterk, is die #GeeMetHart-projek gebore. Die motivering hiervoor? Dat mense geneig is om hul gemeenskap met gelowiges te verwaarloos vanweë armoede, emosionele afgestomptheid, isolasie, ‘n gebrek aan selfvertroue, ‘n gebrek aan vervoer, omdat hulle gesondheid agteruitgaan en nog vele ander redes.
Helpende Hand-takke wat eienaarskap van hierdie projek geneem het, het die afgelope jaar ywerig begin om voorgestelde items vir die GeeMetHart-sakkies bymekaar te maak. Hulle het skenkings verkry en sommige items self geskep. Hul kreatiwiteit, waarvoor heelwat van ons vrywilligers so bekend is, kon aktief ingespan word. Die sakkies is vrolik en met entoesiasme versier en gepak met ‘n Bybel, Bybeldagboek, Kinderbybel, joernaalboekie en pen, interessante items soos ‘n kopliggie, Bybelarmbandjies, speelgoed vir kinders, toiletware, lekkernye en geestelike boeke. Dit is aangevul met ‘n lêer wat die volgende inligting bevat: ‘n Wenkelys vir gelukkiger gesinne, individue en ouer persone, ‘n lys van belangrike hulpbronne in hul gemeenskap, soos die maatskaplike offisier by die plaaslike polisiestasie, die stappe vir ‘n aansoek om ‘n beskermingsbevel, die name van skuilings, en nog ander praktiese inligting. Ouers is toegerus met inligting oor die hantering van boelies, ‘n randrekkergids met ekonomiese geregte, ‘n voorbeeld van ‘n CV en ‘n lys wenke vir studente om hulle toe te rus vir die volwasse lewe.
Die ontvangers van die sakkies is versoek om een of meer items uit hulle sakkie aan iemand anders te gee om die waardevolle aksie van gee aan te moedig. Indien hulle wou hê ‘n verteenwoordiger van ‘n kerk moet hulle besoek, kon hulle ‘n vorm teken om toestemming te verleen dat hulle en die kerk met mekaar verbind mag word. Ons as gelowiges word beskou as Jesus se dissipels as ons kies om Hom te volg, en hy het immers die voorbeeld gestel deur uit te reik na mense in nood.
Helpende Hand is reeds jare lank besig om ‘n volhoubare toekoms vir die Afrikaner-gemeenskap te skep. Daarvoor word hulpbronne soos tyd, mense en geld ingespan. Die klem lê op die volhoubaarheid van aksies wat Afrikaners se nood kan verlig, armoede verbreek en maatskaplike uitdagings voorkom. Sodoende word ‘n voorspoedige toekoms geskep deur mense waar nodig op te voed, op te lei en te ontwikkel. Helpende Hand fokus op die holistiese welstand van gemeenskappe, insluitend kwesbare groepe soos kinders, gesinne, ouer persone en persone met gestremdhede.
Die GeeMetHart-sakkies is na gelang van behoefte persoonlik deur ons vrywilligers oorhandig. Dit was opvallend hoe die vrywilligers se harte deur hul welwillendheid aangeraak is sodat hulle gemotiveer is om te volhard met hierdie projek. Die ontvangers van die sakkies het almal hul diepe dankbaarheid betoon. Hulle was baie verbaas en kinderlik opgewonde oor die groot bederf, veral die Oreo-koekies, ‘n joernaalboekie waarin hulle kan skryf en ‘n lekkerruik-lyfseep. Hierdie mense is op vele wyses opgehef deur die wete “ek is ook belangrik” en die gevoel van “ek word onvoorwaardelik bederf” en “ek maak saak, want die kerk en ander mense stel belang in my”. Wanneer individue en gesinne versterk word, word verbondenheid en geborgenheid gekweek. Die uiteinde is ‘n sterker gemeenskap. Stukkie vir stukkie, tree vir tree word daar gebou. Individue en gesinne word met netwerke in hul gemeenskap verbind en andersom.
Is dit nie ons Vader se bedoeling dat ons Hom kragtiger saam kan dien as ons verstaan wie en wat ons is nie? So kan ons van hart tot hart liefde versprei en ons doel op aarde uitleef.