WES-KAAP

WES-KAAP

LANDBOU EN OPLEIDING BELANGRIK VIR HELPENDE HAND

Hannes Noëth, Solidariteit Helpende Hand se uitvoerende direkteur, en adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, het Porterville se boeregemeenskap op 19 November besoek. Die doel van die besoek was om op grondvlak met boere in gesprek te tree en hulle opnuut bewus te maak van die belangrike rol wat hulle in hul gemeenskappe en in Suid-Afrika speel.

‘n Sleutelboodskap wat sterk na vore gekom het, is dat alle boere net daar waar hulle is ‘n betekenisvolle bydrae lewer tot landbou én tot die land se toekoms. Die onderwys, opleiding en ontwikkeling van jong Suid-Afrikaners is afhanklik van boere in hul onderskeie gemeenskappe se betrokkenheid, invloed en toewyding. Waar dit ontbreek, word ‘n werklike leemte ervaar.

Hannes Noëth het vier kernfaktore uitgelig wat enige mens se sukses bepaal: om op te hou kla; om nie jouself voortdurend met ander te vergelyk nie; om nie aanhoudend te bly uitstel nie; en om nie te wag totdat alles perfek is voordat jy begin werk nie. Hy het klem gelê op die onmisbare rol van landbou en die boere in Suid-Afrika se vooruitgang en volhoubare gemeenskapsontwikkeling.

Gerrie Nel het gefokus op die verval van die land se strafregstelsel en die werklikhede rakende die hantering van regsake. Hy het dit duidelik gestel dat die verantwoordelikheid vir ontwikkeling en ‘n ommekeer van die verval op baie terreine in Suid-Afrika uiteindelik by ons as gemeenskappe self berus. Hy het verduidelik wat die werk van AfriForum se onafhanklike vervolgingseenheid behels asook die waarde daarvan as instansie wat gelykheid en regverdigheid in vervolgingsprosesse bevorder.

Beide gassprekers is met groot waardering deur die Helpende Hand Porterville-tak ontvang by die Drie Seuns-venue op Laatson Plaas in die Porterville-distrik. Solidariteit Helpende Hand se netwerkvennoot iPlan het die geleentheid finansieel moontlik gemaak met ‘n borgskap.

Word deel van die Solidariteit Helpende Hand familie