Helpende Hand Helderberg-tak bederf Huis Marie Louw op Nasionale Sjokoladedag
Op Nasionale Sjokoladedag 2025 het die vrywilligers van die Helpende Hand Helderberg-tak ‘n besonderse verrassing vir die seniors in Huis Marie Louw gehad.
Die span het nie net heerlike sjokolade-kolwyntjies vir teetyd afgelaai nie – hulle het gaan sit en saam gekuier en versier! Elke inwoner het die geleentheid gekry om hul eie kolwyntjie te versier, iets wat hulle met groot opgewondenheid, kreatiwiteit én trots gedoen het.
Hierdie eenvoudige, liefdevolle gebaar het veel meer beteken as net ‘n soet bederf wat afgelaai is. Dit was ‘n teken van werksyn – die bereidheid om regtig te wíl help met tyd, aandag en menslikheid.

Die inwoners het die samesyn geweldig geniet en baie het gesê hoe lekker dit voel om weer iets met hul eie hande te kan skep – die gevoel van “ek kan nog steeds”.
Só bou ons saam aan ons kwesbare gemeenskappe se welsyn.
Só bring ons hoop, waarde en menswaardigheid vir dié mense wat dit die nodigste het.
Dankie aan elke vrywilliger wat dit moontlik gemaak het!