Hangklip se 75-jarige helper staan steeds eerste vir haar gemeenskap
Op 75-jarige ouderdom is Maryna Hattingh steeds aktief betrokke by gemeenskapswerk in die Hangklip-omgewing, waar sy haar tyd en energie in Solidariteit Helpende Hand se projekte belê.
Hattingh se betrokkenheid het vyf jaar gelede begin nadat sy ’n motiveringspraatjie in haar dorp bygewoon het. Sy beskryf dit as ’n keerpunt.
“Ek het dadelik geweet ek behoort hier,” sê sy.
Sedertdien het sy ’n volgehoue rol gespeel in die plaaslike Helpende Hand-tak se werk. Toe die vorige bestuur van die tak nie meer kon voortgaan nie, het Hattingh saam met ’n klein groepie vrywilligers betrokke gebly en gehelp om die werk voort te sit. Hulle het inligting gedeel, mense gemobiliseer en die momentum in die gemeenskap behou.
Volgens Lizé Theron, Helpende Hand se assistent streekorganiseerder van Wes-Kaap Sentraal, lê die waarde van vrywilligers in hul volgehoue betrokkenheid en ingesteldheid.
“Vrywilligers soos Maryna wys dat diensbaarheid nie ophou by ’n sekere ouderdom nie. Dit gaan oor ’n hart wat bereid is om aan te hou gee,” sê Theron.
Na ’n loopbaan van 50 jaar in die onderwys het Hattingh haar aftrede as ’n nuwe fase benader. Sy is tans betrokke by projekte wat fokus op bejaardes, kinders en mense met spesiale behoeftes in haar gemeenskap.
In die Hangklip-omgewing brei hulle mussies en truitjies vir pasgebore babas, maak vroetelmoutjies vir ouer persone en vir dié met gestremdhede, en werk hand aan hand met die Kleinmond Senior Burgers-groep.
Vir Hattingh lê die betekenis van haar werk nie net in die projekte nie, maar in die mense.
“Ek voel spesiaal wanneer ek my uniform aantrek. Ek dra dit met trots,” sê sy.
“Dit gee my die geleentheid om iets te doen wat waarde het. Ek leer nog elke dag en elke projek bring sy eie uitdaging en seën.”
Theron sê vrywilligers soos Hattingh speel ’n belangrike rol in die bou van volhoubare gemeenskappe.
“Dit is mense soos sy wat help om hoop prakties sigbaar te maak. Hulle gee nie net tyd nie, hulle bou verhoudings en dra by tot die welstand van ander,” sê sy.
Vir Hattingh bly die grootste motivering eenvoudig: om aan te hou bydra waar sy kan.
“Wat my aan die gang hou, is om te sien iets werk uit. Daardie positiewe uitkoms beteken baie,” sê sy.
Vir ander wat dit oorweeg om betrokke te raak, het sy ’n duidelike boodskap:
“As jy iets soek wat jou sal interesseer en jou goed oor jouself sal laat voel, sluit aan by Helpende Hand. Wees hulpvaardig. Wees bereid om jou eie gemeenskap te help. Dit is ’n unieke ervaring met positiewe resultate wat jy in die gemeenskap sien,” sê sy.
Besoek www.weskaaphand.co.za om as ’n vrywilliger in die omgewing aan te sluit.

Maryna Hattingh, Carien Lombaard en Roline Campher met troetelbeertjies wat die span onlangs gebrei en aan die inwoners van Brigadoon (mense met demensie) geskenk het.
Uitgereik deur:
Lizé Theron
Assistent Streekorganiseerder: Wes-Kaap Sentraal
Solidariteit Helpende Hand
Sel: 082 895 864