WES-KAAP

WES-KAAP

Gemeenskapsnuus: Leer ken van Helpende Hand se oudste vrywilligers

As deel van Solidariteit Helpende Hand se Vrywilligersmaand in Mei word hierdie menslike stories vertel om erkenning te gee aan die mense agter die werk – vrywilligers wie se toewyding, deernis en volgehoue betrokkenheid die ruggraat van baie gemeenskappe vorm.

*Heilie M Templer (78) van Riversdal in die Wes-Kaap

Van komberse tot lekkernye, Heilie bring warmte waar dit nodig is

Op 78 bly Heilie M. Templer van Riversdal in die Wes-Kaap ‘n toegewyde vrywilliger wat steeds haar tyd en energie gebruik om ander deur Solidariteit Helpende Hand te dien.

Heilie is sedert 2019 by haar plaaslike Helpende Hand-tak betrokke en beskryf haar rol eenvoudig: om te help waar nodig. Of dit nou by die Ons Winkel in die dorp is of by gemeenskapsprojekte, haar ingesteldheid bly dieselfde.

“Ek is lief vir mense. Dit het ek by my ma en my suster geleer. Ons help wanneer ons kan. Jy hoef nie alles te doen nie, jy moet net iets doen,” sê sy.

Vir haar lê die waarde van vrywilligerswerk in die klein, persoonlike oomblikke wat ‘n verskil maak.

“My spesifieke oomblik was toe ons ‘n paar seniors, onder wie rolstoelgebruikers, vir ‘n uitstappie geneem het en ek ‘n ‘oom’ met sy loopraam bygestaan het. Ek moes later hoor hy is jonger as ek,” skerts sy.

“Die dankbaarheid dat ek dit kon doen, en die hoop dat daar iemand sal wees om my ook eendag so by te staan, beteken baie. Dit wys vir my hoe een uur van jou tyd ‘n groot verskil kan maak.”

Heilie bly aktief betrokke by verskeie projekte, onder meer deur uit te help by die Ons Winkel en deur tyd deur te bring saam met bejaardes, insluitend persone met demensie.

“Die kuiers by Ou Meule Tehuis, waar ons soms komberse aan die bejaardes met demensie uitdeel en of ‘n soetigheidjie gee, is vir my baie spesiaal,” sê sy.

Volgens Marlise Labuschagne, Helpende Hand se assistentstreeksorganiseerder in die Suid-Kaap, speel vrywilligers soos Heilie ‘n onmisbare rol in gemeenskappe.

“Vrywilligers soos Heilie is die hande en voete in hul gemeenskappe. Hulle bring nie net hulp nie, maar ook hoop en waardigheid waar dit die nodigste is,” sê Labuschagne.

Templer glo almal kan iets bydra.

“Elke mens kan help. Al kan jy nie bak of handwerk doen nie, kan jy steeds op ander maniere van hulp wees. Jy hoef nie perfek te wees nie, net bereid om jou hand op te steek,” sê sy.

Vir haar is dit belangrik om projekte te beplan en betyds af te handel, maar ook om die mens agter elke projek raak te sien.

“Dit is die lekker gevoel as ek kan help, al is dit net met eetgoed bak en uitdeel. Dit word so waardeer en geniet. Dis daar waar jy besef hoekom jy dit doen,” sê sy.

Hoewel sy nie meer voltyds by alle projekte betrokke kan wees nie, bly haar hart by gemeenskapswerk.

“Ek weet my tyd raak nou min by Helpende Hand, maar ek vrees die dag as ek nie meer betrokke kan wees nie. Ek sal steeds daar wees om by te staan waar ek kan, want ‘n mens hou nie op om om te gee nie,” sê sy.

Besoek www.weskaaphand.co.za om as ‘n vrywilliger in dié omgewing aan te sluit.

FOTOBYSKRIF:

1) Heilie Templer bak lekkernye vir een van Helpende Hand se projekte
2) Suster Linda Botha en Heilie Templer tydens ‘n projek by die Ou Meule Tehuis

Uitgereik deur:

Marlise Labuschagne
Assistentstreeksorganiseerder: Suid-Kaap
Tel: 071 390 7766
E-pos: [email protected] 

Word deel van die Solidariteit Helpende Hand familie