Gemeenskapsnuus: Leer ken van Helpende Hand se oudste vrywilligers
As deel van Solidariteit Helpende Hand se Vrywilligersmaand in Mei word hierdie menslike stories vertel om erkenning te gee aan die mense agter die werk – vrywilligers wie se toewyding, deernis en volgehoue betrokkenheid die ruggraat van baie gemeenskappe vorm.
*Izak Janse van Noordwyk (82) van die Paarl in die Wes-Kaap
Hy ken swaarkry self en daarom help Oom Izak steeds ander
Oom Izak van Noordwyk (82) van die Paarl weet wat dit beteken om min te hê en juis daarom help hy vandag ander om weer op hul voete te kom.
Hy en sy oorlede vrou, Koekoe, het saam die Helpende Hand-tak in die Paarl in 2008 gestig, waarna die tak gegroei het tot ongeveer 15 taklede. Hy is tans ‘n aktiewe lid van die Paarl-tak en is ‘n ingeligte en welbekende inwoner van die dorp met goeie kennis van die gemeenskap. Hy ondersteun die tak deur met projekte te help en het ook die vermoë om vir Helpende Hand nuwe deure oop te maak waar nodig.
Hy is gemotiveerd om betrokke te wees by Helpende Hand omdat hy uit ‘n huishouding kom waar hulle dit nie altyd finansieel breed gehad het nie.
“Ek was ‘n ACVV-kind en het in 1949 begin skoolgaan met klere en skoene wat ons van ander ontvang het,” sê hy.
Sy ouers het albei by die spoorweë gewerk. In ‘n stadium het sy pa siek geword en was die gesin slegs aangewese op sy ma se inkomste. Omdat hy swaarkry ken, het hy ‘n hart vir ander se swaarkry en sal hy uit sy pad gaan om hulle te probeer help.
“Helpende Hand was in die beginjare ‘n organisasie wat kospakkies uitgedeel het, en ons het gewoonlik Donderdagaande die pakkies gepak en Vrydae die kos gaan uitdeel. Een keer het ons by ‘n spesifieke gesin ‘n kospakkie gaan aflewer. Ek het daar aangekom en moes myself inlaat omdat hulle my nie hoor klop het nie. Toe ek in die sitkamer kom, sit hulle en vriende en kuier met ‘n bottel drank en sigarette,” sê hy.
Hy sê hulle was so verleë dat hulle vir hom ook ‘n drankie aangebied het. Dié het hy natuurlik geweier en toe ook die kospakkie teruggeneem en nie weer daar gaan kos afgee nie. Hulle was blykbaar so kwaad vir hom dat hulle hom by die plaaslike raadslid gaan aankla het. So is daar verskeie staaltjies wat hy onthou en graag vertel.
Dit is vir hom belangrik dat mense wat behoeftig is en swaarkry nie uitsoekerig moet wees met wat hulle ontvang nie. Hy vertel daar was onder meer ‘n geval waar ‘n gesin hul neuse opgetrek het vir die papmeel in hul kospakkie. Dit is ook vir hom moeilik om mense te motiveer wat nie self wil werk nie, maar net bakhand staan en verwag dat ander hulle moet help.
“Die verskil wat Helpende Hand in die gemeenskap maak, is nie altyd so ooglopend nie, omdat mense soms vaskyk teen dit wat Helpende Hand nié kan doen nie eerder as dit wat hulle wel in die gemeenskap doen. Ek moes myself kwalifiseer deur deeltyds deur Unisa te studeer om vir ‘n beter posisie in die werksomgewing te kon voorberei. Dieselfde geld steeds vir mense wat vandag in moeilike omstandighede is. Daarom moet daar eerder gefokus word op dit wat ‘n mens self kan doen om jou omstandighede te verbeter eerder as om te verwag dat almal op dieselfde manier gehelp moet word. Daarom is dit vir my belangrik om die studiefonds van die Paarl-tak so sterk as moontlik op te bou sodat geld nie ‘n struikelblok is vir studente wat wil studeer maar nie die fondse daarvoor het nie.”
Oom Izak som sy betrokkenheid by Helpende Hand op met wat dit vir hom beteken om ander te help wat dalk in dieselfde omstandighede is as dit waaruit hy homself moes opwerk. Omdat hy hard gewerk het, is dit vir hom waardevol as ander hard werk om hul omstandighede te probeer verbeter. Dit maak hom opgewonde en dankbaar.
Hy raai mense wat in Helpende Hand se werksaamhede belangstel aan om takvergaderings by te woon en te gaan kyk hoe hulle hul vermoëns kan gebruik om ander te help.
“Die feit dat Helpende Hand die enigste organisasie is wat doen wat hulle doen, behoort ander aan te spoor om daarby betrokke te raak. Van die duisende ander niewinsgewende organisasies is Helpende Hand die enigste een met hul fokus en visie. Dit behoort mense aan te moedig om daarby betrokke te raak as dit ook by jou waardes aansluit,” sê hy.
Oom Izak het ‘n tyd gelede verhuis. In die pakproses het hy afgekom op al die foto’s wat geneem is by verskillende projekte wat Helpende Hand oor die jare gedoen het. Hy is besig om dit in een album te sit en wil dit graag aan die huidige tak gee.
Mariëtte Roos, Helpende Hand se streeksorganiseerder vir die Weskus, bedank oom Izak graag vir die positiewe impak wat hy in die gemeenskap maak.
“Ons salueer oom Izak vir die voorbeeld wat hy stel. Sy humorsin en positiwiteit, sowel as sy omgee vir ander mense in sy gemeenskap, dra by tot die tipe Helpende Hand-vrywilliger wat hy is. Sy menswees spoel oor as ‘n lewende voorbeeld van wat ‘n mens kan doen in jou omgewing wanneer jy werklik die belange van ander op die hart dra,” sê Roos.
Besoek www.weskaaphand.co.za om as ‘n vrywilliger in dié omgewing aan te sluit.
//EINDE


FOTOBYSKRIF:
*Izak van Noordwyk (82) en sy vrou Koekoe
*Izak tydens een van sy tak se projekte
Uitgereik deur:
Mariëtte Roos
Streeksorganiseerder: Weskus
Solidariteit Helpende Hand
Selfoon: 082 493 0763
E-pos: [email protected]