WES-KAAP

WES-KAAP

Gesonde grense: Wanneer “nee” sê ‘n liefdesdaad word

In gemeenskappe waar diensbaarheid en omgee sentraal staan, word die belangrikheid van gesonde grense dikwels misverstaan. By Helpende Hand glo ons dat volhoubare diens nie moontlik is sonder selfrespek, wysheid en duidelike perke nie. Daarom fokus ons Weskus-takke op die tema “Gesonde grense: Wanneer om nee te sê” as deel van ons verrykende opleiding.

In ‘n era van konstante verbinding – waar boodskappe en nood maklik enige tyd met selfone by ons uitkom – raak die lyne tussen werk, diensbaarheid en persoonlike lewe al hoe vaer. Juis daarom is gesonde grense nie ‘n luukse nie, maar ‘n noodsaaklikheid vir emosionele en geestelike welstand.

Gesonde grense help jou om jou tyd, energie, emosies en verhoudings te beskerm. Dit bring duidelikheid oor wat jou verantwoordelikheid is en wat nie. Die bekende skrywers Henry Cloud en John Townsend wys dit ook vir ons uit: “Grense is nie mure nie, maar liefdevolle hekke – jy kies wat inkom en wat buite bly.”

Waarom is grense juis nou so belangrik vir ons elkeen?

In gemeenskapswerk en vrywilligerswerk, sien ons dikwels mense wat uitgeput of uitgebrand raak – nie omdat hulle nie omgee nie, maar omdat hulle te veel gee sonder om hul eie perke te respekteer. Wanneer grense ontbreek, neem ons maklik ander se verantwoordelikhede oor en raak uitgeput sonder om dit betyds raak te sien. C.J. Langenhoven waarsku tereg: Moenie ‘n man help wat homself kan help nie, jy maak hom hulpeloos vir die toekoms.”

Elkeen van ons moet aandag skenk aan die volgende vyf kernareas van gesonde grense:

  1. Fisiese grense – om jou liggaam, energie en behoefte aan rus ernstig op te neem
  2. Emosionele grense – om empatie te hê sonder om ander se emosionele laste jou eie te maak
  3. Tydgrense – om realisties te beplan, prioriteite te stel en ruimte vir herstel te laat
  4. Sosiale grense – om verhoudings te kies wat jou opbou en waar nodig afstand te handhaaf
  5. Verantwoordelikheidsgrense – om duidelik te onderskei tussen jou rol en dit wat ander self behoort te dra

Indien jy daarop fokus, is een van die belangrikste lesse vir jou dan dat om “nee” te sê nie beteken jy gee nie om nie. Jy mag “nee” sê wanneer jy uitgeput is, nie kapasiteit het nie, wanneer ‘n versoek nie by jou waardes pas nie, of wanneer jou gesin, werk of gesondheid aandag nodig het.

Om “nee” te sê, is dikwels ‘n daad van eerlikheid – teenoor jouself én teenoor ander.

Gesonde grense is nie ‘n terugtrekking uit gemeenskapsbetrokkenheid nie. Dit is ‘n uitnodiging tot wyser, gesonder en meer volhoubare diensbaarheid. Wanneer ons na onsself omsien, kan ons met groter vreugde en getrouheid vir ander daar wees.

Word deel van die Solidariteit Helpende Hand familie