WES-KAAP

WES-KAAP

Hoop begin dikwels by die kleinste gebaar

Om oor te begin, is nooit maklik nie. Veral nie as jy met byna niks in ‘n nuwe gemeenskap aankom nie. Vir een mens was dit die werklikheid. Sy het nie geweet waar om te begin of hoe om alles weer op te bou nie. Die onsekerheid van more, die angs oor die onbekende en die bekommernis oor basiese behoeftes het swaar op haar hart gerus.

By Helpende Hand glo ons egter dat hoop dikwels by die kleinste gebare begin.

Deur ons maatskaplike ondersteuningsproses kon ons bystand bied met noodsaaklike huishoudelike items om stap vir stap weer ‘n tuiste te skep. Vir baie van ons is ‘n duvet, ‘n ketel of selfs ‘n eenvoudige blikoopmaker alledaagse voorwerpe waaraan ons skaars dink. Maar wanneer jy met niks moet oor begin, word daardie eenvoudige items simbole van waardigheid, veiligheid en hoop.

Dit gaan nie net oor die items nie. Dit gaan oor die boodskap wat daarmee saamgaan: Jy is nie alleen nie. Iemand sien jou raak. Iemand gee om.

Juis daarom moet ons nooit die waarde van ‘n klein skenking onderskat nie. Elke bydrae wat aan Helpende Hand geskenk word, ongeag hoe klein ook al, word deel van iemand anders se nuwe begin. Dit help om ‘n pad oop te maak waar daar voorheen geen uitweg was nie. Dit gee moed aan iemand wat gedink het alle hoop het opgedroog.

Ons dink dikwels verandering word net deur groot gebare bewerkstellig, maar die waarheid is dat dit dikwels die klein dade van liefde is wat die grootste verskil maak. Die fisiese items help natuurlik hiermee, maar skenkings aan die Ons Winkels word verkoop en bied ook vir jongmense die geleentheid om verder te studeer.

Elke klein gebaar skep ‘n rimpeleffek. Ons sien dit dalk nie altyd raak nie, maar die mense wat dit ontvang – of dit nou fisiese items of ‘n rentevrye studielening is – voel dit diep in hul harte. Daardie rimpels versprei verder as wat ons ooit kan besef. Dit bring hoop waar mense moed verloor het, lig waar daar donkerte was, en dit herinner hulle daaraan dat hulle nie die pad alleen hoef te stap nie.

Wanneer ons kies om te gee, gee ons baie meer as net goedere, tyd of geld. Ons gee hoop en menswaardigheid, en op die ou end gee ons iemand weer die moed om vorentoe te kyk.

Word deel van die Solidariteit Helpende Hand familie