‘n -“Goedvoel”- storie

Oor die jare het ek al ‘n geheue-repertoire van die ervarings tydens my loopbaan as maatskaplike werker opgebou. Die meeste stories het baie hartseer begin, maar heelwat daarvan het gelukkig geëindig. Ek wil ek graag vir julle een van die stories vertel.

‘n Persoon uit die gemeenskap het ons ingelig oor Patricia* (skuilnaam), 4 jaar oud, wat na bewering saam met haar pappa in die bosse gewoon het. Sy was verwaarloos en uitgelewer aan vele elemente. Nadat ‘n veiligheidsassessering gedoen is, is gevind dat sy onveilig en uiters kwesbaar in daardie omstandighede was, en is sy tydelik in ‘n veiligheidshuis geplaas met die doel om haar te beveilig terwyl ‘n omvattende kinderhofondersoek gedoen word. Haar huidige maatskaplike omstandighede moes ondersoek word, haar funksionering geëvalueer, en ‘n plan van aksie vir haar toekoms opgestel word.

Nodeloos om te sê, het dit Patricia getraumatiseer om buite haar bekende omstandighede te wees. Ons sou nooit heeltemal kon weet wat in haar ouerhuis gebeur het nie. Sy het ‘n hegte verhouding met haar pappa gehad, en haar mamma was buite die prentjie.

Patricia was in haar vormingsjare, blootgestel aan ‘n bar lewenswyse met ‘n onveilige skuiling waar haar pappa saam met sy drinkersvriende en die nodige vroulike geselskap tot in die vroeë oggendure gefuif het. Sy het as gevolg daarvan vreeslik gevloek, geen roetine of basiese higiëne geken nie, en uitdagende gedrag getoon. Daarom was dit ‘n nagmerrie om haar aan die “normale” lewe bekend te stel en terselfdertyd iets aan haar trauma te doen.

Dit is wonderlik hoe tyd (wat genesing bring), baie liefde en aandag, konsekwente dissipline, roetine, terapie, ‘n veilige omgewing en akademiese stimulasie ‘n kind se lewe kan verander. Vandag funksioneer sy in ‘n pleeghuis. Sy is ‘n gelukkige, gebalanseerde kind wat gereelde, gekontroleerde kontak met haar pappa het en “gered” is uit haglike omstandighede.

Deur: Alna de Waal Streeksmaatskaplike werker: Suid-Kaap

Leave a Comment