Waardes wat werk

Ek bestudeer onlangs die handleiding vir ons Helpende Hand vrywilligers met die oog daarop om relevant en op datum te bly met wat ons organisasie doen en ook wat ons verwag van vrywilligers wat inskakel en ons ondersteun.

Dit is logies dat Solidariteit Helpende Hand se jaartema jaarliks aangepas word.  Dit skakel so goed in by mekaar en elke jaar se tema kan eintlik as verlengstuk en versterking van die vorige jaar se tema gesien en geleef word.  En toe wonder ek … hoe leef ek die waardes?  Ons tema lui:  Waardes wat “werk” – dit is ‘n werkwoord.  Daarom moet die waardes “werk”.

En dit bring my by die volgende gedagte wat ek hoor toe iemand daarvan praat op Facebook:  “beoefen die Opstanding” (dit was na aanleiding van ‘n preek wat die persoon gehoor het.}  Makliker gesê as gedoen, dink ek by myself.  “Beoefen” is ook ‘n werkwoord – dis dieselfde as “werk”.  So, hoe “beoefen” ek die waardes van Helpende Hand?  Hoe gemaak as my waardes en die waardes van my werkgewer nie dieselfde is nie?  Wie moet verander, aanpas, inpas?

Ongeveer 3 jaar terug, in Mei 2021 het ek die voorreg om ‘n Brightstar kursus te doen wat onder andere handel oor waardes.  Ons leer van die belangrikheid van waardes.  Wat is waardes volgens Brightstar?  Hulle beskryf dit soos volg:  “Jou waardes is eienskappe van jou lewe wat jy persoonlik as baie belangrik ag.  Dit is lewensbeginsels en standaarde wat met die verloop van jare gevorm word.  Dit speel ‘n rol in jou besluitneming en optredes – bewustelik en onbewustelik.  Jou waardes help jou om uitdrukking te gee aan wie jy is en waarvoor jy staan.  Waardes is ‘n kombinasie van jou agtergrond, ervarings, samelewing en jou eie ontwikkeling.  Sommige waardes kan konstant deur jou lewe bly en ander kan verander soos jy verander.” (Brightstar Life, 2019,  Skitterende Self, Module 1, p.9).

‘n Tyd terug leer ek iets van die Gees van God in elkeen van ons.  By geboorte word die Gees in ons ingeblaas, dis ons geleentheid om IN die Gees, en DEUR die Gees te leef.  Wat ‘n wonderwerk en voorreg!  Maar hoe gebruik ons dit?  Is dieselfde Gees elke dag in my teenwoordig?  Gee ek geleentheid aan hierdie Gees om my denke, besluite en voetstappe te rig?  Of ag ek myself so belangrik dat ek my eie voetstappe rig?  Afhanklik van myself of in afhanklikheid van die Gees van God?  Gee ek geleentheid aan hierdie Gees om my in staat te stel om my waardes te werk?

Aan die begin van die jaar hersien ons as span ons waardes en probeer ons dit ook belyn met die waardes van Helpende Hand.  ‘n Goeie oefening wat mens maar deurlopend kan doen.  Jou waardes verander.  Jy leef en leer, jy werk en studeer en ander het invloed op jou lewe.  Jou ouers, jou onderwysers, dosente, kollegas, vriende en uiteindelik ook jou kinders.  Ons leer ook by ons kinders.

Terug na die Gees in elkeen van ons.  In Jesaja 11: 1-2 leer die Skrif ons “Maar daar sal ‘n takkie uitspruit uit die stomp van Isai, en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra; 2) en op Hom sal die Gees van die Here rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van Kennis en van die vrees van die Here.” 

Die Gees in ons kan ons dus in staat stel om goeie waardes te leef. Ons moet net toelaat en seker maak watter Gees is dit wat binne ons is.  Want so word ons ook gewaarsku in Lukas 11 oor ‘n ander lig wat van ons besit kan neem.  Jesus leer vanaf vers 34 “Die lamp van die liggaam is die oog.  As jou oog dan reg is, is jou hele liggaam ook verlig;  maar as dit verkeerd is, is jou liggaam ook donker. 35) Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie. 36) As jou hele liggaam dan verlig is en nie enige deel het wat donker is nie, sal dit heeltemal verlig wees, net soos wanneer die lamp met sy skynsel jou verlig.”  Goeie Lig kan ons in staat stel om goeie waardes te “werk”.  Donker lig kan ons in staat stel om donker waardes te werk, te leef.

Vir elke positief is daar ook ‘n negatief.  Ons het die keuse of ons die Goeie Lig kies om ons waardes te slyp, te rig en te leef. Die negatief wat ons waardes kan beskadig en die werk van ons waardes kan beïnvloed kan ons meet aan wat genoem word in Prediker 6:16-17 “Hierdie ses dinge haat die Here, en sewe is vir sy siel ‘n gruwel: 17) trotse oë, ‘n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet, 18) ‘n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop, 19) een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.”

Solidariteit Helpende Hand is ‘n organisasie wat homself stel in diens van die Here.  Ek wil graag my waardes laat werk saam met die waardes van Helpende Hand om ‘n verskil in die lewens van mense en gemeenskappe te maak.  Ek kan dit net doen met Sy Lig binne my wanneer ek toelaat dat Sy Gees deur my vloei.  Dan kan waardes werk en kan ek waardes “beoefen”.

Dit is ‘n voorreg om te werk in ‘n omgewing waar Christelike waardes beoefen word en waar ons vry kan omgaan met die waarheid van die Woord.  Hopelik kan ons hierdie vryheid gebruik om gemeenskappe waardevol te ontwikkel en ons lampe te laat skyn met waardes wat werk.

Bronne: 

Brightstar Life, Skitterende Self, Module 1, 2019.

Die Bybel, 1957 Uitgawe. Handleiding vir SHH Taklede 2023.

Leave a Comment