Camino verken wonders van Klein-Karoo se sandsteenkerke

Die Klein-Karoo is ‘n streek vol stories, veral stories oor die mense wat hier gewoon, liefgehad en gewerk het. Hulle het hul geloof uitgedruk in die bou van pragtige sandsteenkerke, katedrale en sinagoges wat vandag nog lewende monumente van hul erfenis is.

Pelgrims kan vanjaar die geleentheid kry om ten bate van Solidariteit Helpende Hand hierdie geskiedkundige huise van aanbidding te besoek as deel van die Camino van die Sandsteenkerke. Dié Camino is ‘n unieke staproete wat pelgrims nie net met die verlede gaan verbind nie maar ook met hulself en mekaar.

Die Camino van die Sandsteenkerke is ‘n inisiatief van die Klein Karoo Camino, ‘n organisasie wat verskillende staproetes in die streek aanbied om mense te inspireer om hul lewens te vernuwe en te verryk.

“Solidariteit Helpende Hand is bevoorreg om by hierdie reistog vir die siel betrokke te wees. Die Camino van die Sandsteenkerke fokus spesifiek op die kulturele en spirituele aspekte van die Klein-Karoo, en neem pelgrims op ‘n reis deur die verskeidenheid kultuurskatte wat hier ontstaan het,” sê Alisha de Lange, Solidariteit Helpende Hand se streeksbestuurder van die Wes-Kaap.

Die sirkelroete strek oor sowat 190 km, maar pelgrims kan ook korter of langer roetes bespreek. Nuwe roetes oor langer afstande word tans ontwikkel om aan ervare stappers meer opsies te gee. Elke Camino eindig in Oudtshoorn, die hart van die Klein-Karoo. Die pelgrims stap deur die geskiedenis, kultuur en natuurskoon van die streek en besoek verskeie plekke van aanbidding, besienswaardighede en unieke landmerke.

“Die doel van die pelgrimstog is om ‘n geestelike, fisiese en emosionele ervaring te bied wat die pelgrims nader aan hulself, mekaar, die natuurskoon en God bring. Die einddoel is om die nodige fondse in te samel vir verskeie projekte van Solidariteit Helpende Hand Wes-Kaap-streek om Afrikaanse gemeenskappe te ontwikkel en te versterk,” sê De Lange.

Gaste word ontvang deur ‘n bestuurslid van Klein Karoo Camino. Die bestuur en diensverskaffers is daagliks betrokke en bestuur die logistiek met ‘n ervare hand. Bagasie word tussen oornagplekke vervoer sodat stappers net ‘n klein dagsakkie met verversings hoef saam te dra.

‘n Veilige, skoon, netjiese slaapplek is die norm. Waar beskikbaar, word luukse gastehuise en hotelle gebruik. Om te stap tap energie en daarom word alle maaltye verskaf en is vullend, gesond en smaaklik. Gaste kan uitsien na driegangmaaltye plus heerlike versnaperinge op die roete.

Die meeste van die besoekpunte is nie geredelik toeganklik vir die publiek nie, maar Klein Karoo Camino het eksklusiewe toegang daartoe verkry. Pelgrims kan die volgende hoogtepunte op die hele sirkelroete beleef:

Sinagoges

Oudtshoorn het teen die einde van die 19de eeu ‘n groot toestroming van Joodse gesinne beleef en in 1914 was daar reeds 600 gesinne. Die dorp het bekend gestaan as “Klein Jerusalem” of “Yerushalayim beDerom Afrika” (Jerusalem van Suid-Afrika). Twee sinagoges (die woord beteken “plek van samekoms”) is gebou – die eerste in 1888 en die tweede in 1892. Die Queenstraat (nou Baron van Reedestraat)-sinagoge wat in 1888 gebou is, bestaan nog. Dit is ontwerp deur George Wallis en staan bekend as “Der Englishe Shul”. Die eerste rabbi was Rabbi Wolfson. Die sinagoge in St. Johnstraat is in 1892 gebou deur hoofsaaklik Jode uit Kelm in Duitslad en het die bynaam “Griener Shul” gekry. Dit is in 1973 gesluit. Die pragtige koepelvormige ark, ‘n presiese replika van die een in die Kelm Shul, en die voorste kerkbanke is na die plaaslike C.P. Nel-museum oorgeplaas. Inligting en stories oor “Der Englishe Shul” word aangebied deur toerleiers Larry Marcus en Hilda Boshoff.

St. Saviour Katedraal

Die St. Saviour Katedraal is ‘n Katolieke kerk wat in 1892 gebou is. Pelgrims leer meer oor die geskiedenis en simboliek van die kerkklokke, die Swart Madonna, en die verbintenis van die katedraal met Napoleon Bonaparte en die Poolse weeskinders tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die besoek word afgesluit met ‘n kort klokkespel en ‘n ligte middagete. Carol French en Hilda Boshoff begelei die besoekers op hulle reis deur die katedraal.

St. Judes Anglikaanse kerk

Die volgende kerk wat pelgrims kan besoek, is die St. Judes Anglikaanse kerk wat heel moontlik die oudste oorspronklike kerkgebou in Oudtshoorn is. Die hoeksteen is reeds in 1860 gelê. Die loodglasvensters is kunswerke in eie reg.

NG Moedergemeente Oudsthoorn

Een van die sierlikste sandsteengeboue is ongetwyfeld dié van die NG Moedergemeente in Oudtshoorn. Die gemeente is op 11 Oktober 1853 gestig en die hoeksteen van die kerkgebou is op 15 Januarie 1861 gelê. Die gebou is 18 jaar later eers voltooi weens onder meer foutiewe bouplanne wat deur Carl Otto Hager verbeter moes word. Dié gebou word beskou as een van die beste sandsteengeboue in Suid-Afrika en beskik oor uitstekende sierwerk.

Bybelse tuin

Pelgrims stap van Oudtshoorn af na die NG Gemeente Kangovalleie toe in Schoemanshoek, ‘n afstand van ongeveer 13,3 km. By hul aankoms in Schoemanshoek word die geselskap uitgeplaas na verskillende gastehuise waar hulle aandete nuttig en oornag. Na ontbyt die volgende oggend volg die hoogtepunt van die besoek aan Schoemanshoek: ‘n begeleide toer deur die Bybelse tuin. ‘n Omvangryke versameling plante, bome en struike wat in die Bybel voorkom, is in die tuin aangeplant. Elke plant word beskryf terwyl plaaslike lidmate meer inligting verskaf oor die plante, bome en simboliek van die tuin. Stappers word ook met ‘n keurige broodtafel bederf deur die elegante en bekwame gasvrouens van NG Kangovalleie.

Kango Bergoord

Pelgrims stap van Schoemanshoek na die Kango Bergoord, ‘n afstand van 12 km. Die roete lei hulle al langs die uitlopers van die Swartberge met asemrowende uitsigte oor die vallei waarin Schoemanshoek geleë is. Kango Bergoord is midde-in die pragtige natuurskoon van die Klein-Karoo geleë. Pelgrims oornag hier. 

Rust-en-Vrede Waterval

Vanaf Kango Bergoord na die Rust-en-Vrede Waterval durf stappers die afstand van ongeveer 10 km teen die hange van die Swartberge aan. Die waterval het ‘n hoogte van 60 meter en val in ‘n pragtige kloof af. Weens die besondere atmosfeer van kalmte en rustigheid is die waterval ‘n gewilde bestemming vir diegene wat wil nadink.

Sterrekyk

Op een van die geskikste aande kry pelgrims die geleentheid om met Charlie Nunn as aanbieder na die sterre te kyk. Sterrekyk word aangepas onderhewig aan weerstoestande. Charlie se kennis, kragtige teleskoop en sy besondere vermoë om met mense om te gaan, maak hierdie ‘n ervaring wat ‘n mens vir lank onthou.

Spitskop en Oudemuragie

Vanaf Rust-en-Vrede stap pelgrims verder al teen die voetheuwels van die Swartberge na Oudemuragie, ‘n afstand van 12 km. Die pad lei verby Spitskop, ‘n piek van die Swartberge. Die natuurskoon is ongerep. Hulle bereik Oudemuragie teen om en by 18:00-18:30. Daar ontvang hulle hul bagasie en inboek by Oudemuragie Gasteplaas. Die gasvrou is die bobaas storieverteller en voltydse boer, tannie Maggie Fourie.

Elke wooneenheid het ‘n direkte uitsig op die Swartberge. Die stilte, gevoel van eenwording met die ongeskonde natuur en ouwêreldse gasvryheid wat tannie Maggie bied, maak dit ‘n onvergeetlike belewenis.

Die dag daarna begin vroegoggend met ontbyt. Om 08:00 klim almal op ‘n bakkie met tannie Maggie agter die stuur. Sy neem hulle op ‘n ontdekkingstog wat lei na die mooiste hoekies en stroompies op Oudemuragie. Hier kan ‘n mens selfs silwerskoon, vars bergwater uit ‘n onbesoedelde bron drink. Na die uitstappie word gaste vir oulaas bederf met outydse, tuisgebakte melktert om hulle te versterk vir die staptog van 8,6 km vanaf Oudemuragie Gasteplaas na De Rustica Olyfplaas.

De Rustica Olyfplaas

Met hul aankoms by De Rustica om 13:00 word die pelgrims getrakteer op ‘n olyftoer, olyfolieproe en ‘n gesprek oor die belangrike rol van die olyfboom en olyfolie in die Bybelse tye.

Die toer word toegelig met kort multimediavertonings en vertellings deur die bekwame gidse van De Rustica.

Die Lydensweg (Via Dolorosa)

Reisigers vertrek om 15:00 vanaf De Rustica na St. Konrad Katolieke Kerk in Dysselsdorp (15 km) vir die stap van die Via Dolorosa (lydensweg, of die pad van smarte). ‘n Plaaslike priester begelei die gaste en verduidelik die simboliek en betekenis van elk van die twaalf stopplekke. Ruim tyd word toegelaat vir vrae en die beantwoording daarvan en vir die belewenis van hierdie besonderse ervaring.

Historiese Swaaibrug

Die roete van die Camino van die Sandsteenkerke sluit die kruising van die Grobbelaarsrivier in Kerkstraat, Oudtshoorn in. Die Grobbelaarsrivier is gewoonlik ‘n skugter stroompie, maar kan in ‘n bruisende stroom verander ná swaar reën in die Swartbergberg-opvangsgebied. Oor die Grobbelaarsrivier strek een van die elegantste hangbrûe van sy soort in Suid-Afrika. Hierdie historiese brug is in 1913/4 gebou. Die 9 meter hoë torings aan weerskante is van traliestaal. Die brug is in 1964 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Die rustige toneel van die hangbrug hoog oor die Grobbelaarsrivier lei dikwels tot diep besinning. Daar is die voor die hand liggende gedagte om veilig bo die lewe se probleme te kan uitstyg – die spreekwoordelike “brug oor troebel waters” met ‘n Leidende Hand wat ‘n pad oor enige hindernis aandui, en die herinnering dat die oplossing vir enige probleem gevind kan word deur op te kyk en vorentoe te beweeg.

Volstruispaleise

Die volstruispaleise Foster’s Manor en Pinehurst word besoek. Luister onder andere na die verhaal van die prokureur wat volgens oorlewering sy eie begrafnis bygewoon het.

Simboliek van ruite

Besoek NG Oudtshoorn Park Gemeente se kerk met die gekleurde ruite wat ‘n unieke voorstelling van die Evangelie is. Tyd en geleentheid word aan pelgrims gegun om na te dink en te besin oor elke gas se eie storie.

“Die Camino van die Sandsteenkerke is ‘n roete wat nie net die liggaam voed nie maar ook die siel. Dit is ‘n roete wat mense nader bring aan die verlede, die hede en die toekoms van die Klein-Karoo, en ook aan hul eie storie. Dit is ‘n roete wat die ware essensie van die Camino uitbeeld: om jouself te bevry, om jouself te vernuwe, en om verryk te word deur jou ervarings,” voeg De Lange by.

Hierdie unieke staproete is nie net beperk tot diegene wat fisies kan stap nie. Vir diegene wat verkies om die skoonheid van die Klein-Karoo vanuit ‘n bus te ervaar, bied die Klein Karoo Camino ook bustoere aan. Hierdie alternatiewe reis bied steeds ‘n ryk kulturele en spirituele ervaring en maak die erfenis van die streek toeganklik vir ‘n wyer gehoor.

Klein Karoo Camino nooi ook gereeld bekendes uit om die toere mee te maak. Verwag daarom om skouers te skuur met Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, Martelize Brink, skrywer en omroeper by RSG, Pierre van der Westhuizen, internasionale operasanger, en nog vele ander.

Die bustoere vind plaas van 15 tot 18 April, 18 tot 21 Junie, 12 tot 15 Augustus en 11 tot 14 November.

Staptogte begin elke Maandag dwarsdeur die jaar. Kontak Klein-Karoo Camino telefonies by 071 209 1977 om ‘n persoonlike Camino te ontwerp. Lede van alle instellings van die Solidariteit Beweging kry 10% afslag op die toerprys. Die toere vir 2024 is beperk, maar daar is steeds geleentheid om hierdie unieke reis te ervaar.

Vir meer inligting en besprekings, besoek die Klein Karoo Camino webwerf by www.kleinkaroocamino.co.za of stuur ’n WhatsApp-boodskap na 071 209 1977.

//Einde

Uitgereik deur Solidariteit Helpende Hand:

Phillip Bruwer

Mediaskakelbeampte

Sel: 081 374 5043

E-pos: [email protected]

Leave a Comment